DIE 12-jarige seun wat vermis geraak het nadat hy Vrydagmiddag deur ’n sleurstroom by die hoofstrand van St. Francisbaai meegesleur is, se lyk is gevind.
Sers. Majola Nkohli, ’n polisiewoordvoerder, sê die lyk is dié van Likhona Plaatjie.
Luidens ’n verklaring Sondag deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Likhona se liggaam Saterdagmiddag laat deur die polisie op die strand opgespoor.
Luidens die NSRI se eerste verklaring is hulle omstreeks 17:00 na die toneel ontbied waar ’n verdrinking aangemeld is.
“Die reddingsboot Spirit of St. Francis II is ontplooi en NSRI-swemmers het hulle na die toneel gehaas. Met hul aankoms daar het die soektog begin na Likhona, glo ’n plaaslike inwoner wat volgens ’n ooggetuie met sy gesig na onder in die water gedryf het.
“Hy is volgens die ooggetuie deur ’n stroom meegesleur sowat 20 minute voordat die NSRI op die toneel aangekom het.”
Daar is met ’n uitgebreide soektog langs die kus sowel as in die water begin, maar sonder sukses. Die polisie se duikeenheid sowel as hul K9-eenheid het die soektog voortgesit totdat die liggaam uiteindelik opgespoor is.
’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.