DIE gewilde Mighty Men Conference vind vanjaar vanaf 2 tot 4 Maart te Humansdorp plaas.
Volgens dié wat al die byeenkomste bygewoon het, is dit ’n ervaring wat pa en seun nie moet misloop nie. Mighty Men maak al vir 14 jaar ’n groot impak op die lewens van mans en seuns deur die hele Suid-Afrika sedert ’n doodgewone boer, Angus Buchan, dit in 2004 begin het.
Met die eerste geleentheid het skaars ’n dosyn mans saamgetrek. Teen 2010 het hierdie getal tot 300 000 gegroei.
Mense van die Vrystaat, Gauteng en Wes-Kaap is oppad om deel van die geleentheid te vorm.
Hierdie jaar se Mighty Men Conference word op die plaas Geelhoutboom net buite Humansdorp aangebied.
Die hekke maak Vrydag, 2 Maart, om 12:00 oop en teen 18:00 sal Piet Jacobs die naweek behoorlik afskop met ’n optrede. Die geleentheid word in Afrikaans en Engels aangebied.
Die koste is R50 per persoon vir die hele naweek. Sondag tree Riekert Botha op. Hierdie geleentheid is gratis en oop vir die hele familie.
Kaartjies is beskikbaar vanaf itickets.co.za, Magda by 082 401 2103 of by die hek.