DIE wedloop mag dalk Oorie Berg heet, maar die deelnemers en organiseerders is beslis nie ‘oorie’ muur nie.
Dié half-marathon oor 21.1km wat op 28 Mei vir die heel eeerste keer in Kareedouw aangebied word, kan straks dié padwedloop in die KouKamma word.
Die Walmer Atletiekklub in Port Elizabeth bied die wedloop aan wat deur die strate van Kareedouw beslis sal word. Buiten die halfmarathon is daar ook ’n 10km en 5km-wedloop.
Die eerste man en vrou wat die lint tydens die 21.1km halfmarathon breek, wen R300- pysgeld. Medaljes vir die eerste 400 deelne-mers in die half-marathon, asook T-hemde vir die eerste 200 hardlopers in die kategorie is op die spel. Die eerste 100 deelnemers oor die wenstreep in die 5km-wedloop, ontvang ’n T-hemp.
Audie Claassen (64) van Kareedouw, ’n lid van die Charlo Atletiekklub, se hardloopskoene staan al slaggereed vir die halfmarathon. Claassen neem al vir meer as 50 jaar aan padwedlope deel en spog met honderde geslaagde wedlope op sy kerfstok - inslui-tende 50 Comrades en drie Two Oceans-ma-rathons. Hy neem aan nagenoeg 48 wedlope ’n jaar deel en die eerste wedloop op sy kalender is die jaarlikse Woodlands Dairy-wedloop in Januarie by Mentorskraal in Jeffreysbaai. Daar is nie een wedloop wat hy begin en nie voltooi het nie.
“As jy al die kilometers neem wat ek al gehardloop het, was ek al meer as een keer om die wêreld,” sê hy laggend.
Sedert hy 12 jaar gelede vanaf Port Elizabeth na Kareedouw verhuis het, droom hy daarvan om ’n wedloop van die aard aan te bied. Die fondse het net nog altyd ontbreek. Nou word daardie droom met die hulp van die Walmer Atletiekklub en Loynes Jenkerson bewaarheid.
Claassen, wat in sy jonger dae aan landloop deelgeneem het, beskryf die roete as volg: “Die opdraande is plat, en die afdraande is ook plat.”
Claassen onthou nog watter lekker gevoel dit was toe hy as o.15-landloop-atleet aan die o.19-wedlope deelgeneem het en tot hul span se oorwinning bygedra het. “Die skoolhoof het tydens saalbyeenkomste altyd ’n punt daarvan gemaak om ons jonger atlete vir ons bydrae te bedank,” sê ’n trotse Claassen.
Die Oorie Berg Halfmarathon en 10km- en 5km-wedlope begin om 07:00 by Die Stoor in Kareedouw. Deelnemers aan die 21.1km-wedloop sal die pad tot by die Oudebosch Padstal in Eersterivier aandurf en weer terug na Kareedouw. Inskrywing kos R50 vir die 21.1km en 10km-wedlope, en R5 vir die 5km-pretloop. Inskrywingsvorms is beskikbaar by Die Stoor vanaf 05:30 op die oggend van die wedloop.
Vir meer inligting, skakel Claassen by 082 451 5205 of 042 288 0100.