VARKBOERE in die Oos-Kaap is gewaarsku teen swendelaars wat beweer dat daar uitbrekings is van die dodelike klassieke varkpes en dat die besmette diere van kant gemaak moet word.
Klassieke varkpes is nie dieselfde as die meer algemene varkgriep nie, maar twee verskillende varksiektes, verduidelik Simon Streicher, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie.
Varke wat klassieke varkpes het, hou op met vreet, het hoë koors en bondel op mekaar. Vrektes kom voor. Dit is ’n siekte wat dadelik aangemeld moet word. Geen entstof hierteen is in Suid-Afrika beskikbaar nie, en besmette varke word van kant gemaak.
Klassieke varkpes maak nie mense siek nie. Mense wat in aanraking was met varke wat met die siekte besmet is, kan egter die siekte aan gesonde varke oordra.
“Daar was in 2005 ’n uitbreking van hierdie siekte in die Oos-Kaap, en toe moes 492 000 varke deur die veeartsenydienste van kant gemaak word. Hierdie veldtog het die Suid-Afrikaanse regering R800 miljoen gekos,” aldus Streicher.
Volgens Mlibo Qoboshiyane, LUR vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, besoek “sekere individue” plase en vertel aan die eienaars dat uitbrekings van die siekte in die provinsie voorkom.
“Hulle beweer ook dat die departement besig is om besmette varke bymekaar te maak sodat dit van kant gemaak kan word. Dit is heeltemal onwaar.
“Ek wil dit duidelik stel dat daar geen uitbreking van hierdie siekte in die Oos-Kaap of elders in Suid-Afrika is nie. Indien ’n uitbreking hiervan wel voorkom, sal hierdie sensitiewe inligting deur die korrekte amptelike kanale deur die staat bekend gemaak word.
“Almal wat hierdie onware stories versprei, moet onmiddellik aan die polisie gerapporteer word, sodat hulle voor die hof gedaag kan word,” het Qoboshiyane gesê.
Ook Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, weet van geen uitbreking van die siekte in die provinsie nie.
“Hierdie is klaarblyklik ’n swendelstorie. Onder normale omstandighede sal Agri Oos-Kaap die eerste wees wat in kennis gestel sal word van enige dieresiekte wat ons provinsie tref.
“As dít die geval was, sou ons as organisasie lankal ons lede in kennis gestel het van die gevare en implikasies van so ’n ramp,” het Stern bygevoeg.