’n Bekende beesteler van Oesterbaai in die Oos-Kaap het die naweek geskiedenis gemaak toe hy die suiwel- en die vleisbees-interraskampioenskap op Agri-Expo Livestock gewen het.
Andrew Masterson se Holstein-koei, Milagro Sexi 13140, is Saterdag op die plaas Sandringham buite Stellenbosch as die FNB-Suiwelkoningin gekroon.
Sy swart Angus-koei Milagro Power 1324 is as die BKB-Vleiskoningin aangewys.
Die suiwel-interraskampioenskap is beoordeel deur Herman Duvenage, senior beoordelaar van alle vleisbees- en suiwelrasse in Suid-Afrika, en twee internasionale beoordelaars, Harry Schuiling van Nederland en Neal Smith van Amerika.
“Vanjaar se Livestock is die beste blootstelling wat ek nog op ’n skou in die land gekry het – ek het nog nooit soveel mense op ’n beesskou gesien nie,” sê Masterson.
Dié voorsitter van die Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika en eienaar van die Milagro sê sy oorwinning is ’n eer, want die standaard in dié kompetisie is baie hoog.
“Livestock bied ons ’n uitstekende bemarkingsgeleentheid om ons beste diere aan die
publiek en voornemende kopers ten toon te stel,” sê hy.
Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, sê dit is ’n besonderse prestasie dat een teler albei interraskampioenskappe wen.
Volgens Ehlers is Agri-Expo Livestock wat deur meer as 20 telersgenootskappe ondersteun word, die afgelope vier jaar gevestig as die mees gesogte vee-ekspo in Suid-Afrika.
Hy sê dié landbougenootskap bied die grootste suiwel- en vleisbees-interraskampioenskap van sy soort aan, met meer as 200 gehaltebeeste wat deelneem.
“Dit is uitsonderlik om 11 vleisbeesrasse en drie suiwelrasse op ’n skou te hê, en is ’n be-wys dat Agri-Expo Livestock op ’n internasionale standaard is.
“Ons is trots daarop dat ons vanjaar ’n rekordaantal van byna 14 000 mense op die skou ontvang het,” sê hy.