OP jul merke . . . gereed . . . trap . . .
Hardloop, stap, rol, ry, gly of stoot, saam in die tweede prettige kwekery-wedloop. Die enigste reël: jou vervoermiddel mag nie ’n enjin hê nie.
Hetsy jy jou skopfiets nader trek, jou boetie se blou fiets vir die dag leen, die ongelyk pad en klippertjies op vier wiele of met jou tekkies aandurf, hier gaan dit oor manne- en vroue-krag, flink dink en hope pret.
Gamtoos-kwekery in Patensie bied op 18 Februarie om 09:00 hul jaarlikse Amazing Race by Rikus Landboudienste op Patensie ten bate van die Laerskool Gamtoosvallei aan.
Die wedloop is oop vir alle voor- en laerskoolleerders. Laerskoolleerders sal ’n 5km-roete deur die kwekery en boorde aanpak, terwyl diegene in gr R en jonger ’n korter roete by die kwekery self sal voltooi.
Die roete is met hindernisse besaai. Deelnemers sal oor berge en grondhope moet klouter, asook deur poele water hardloop. Deelnemers sal hulle moet reghou vir boere-sport met ’n kwekery-kinkel, ’n vreeslike geklim, lekkerspoeg en groot skrik.
Heerlike eetgoed sal te koop wees.
Inskrywings kos R50 en is by die Laerskool Gamtoosvallei in Patensie beskikbaar. Elke deelnemer ontvang ’n medalje en verras- singspakkie.
Vir meer inligting, skakel 042 283 0246 of epos admin@lsgamtoos.co.za.