Tsitsikamma: Dinge in ’n bos

2019-07-18 06:00
Die ou Stormsrivierpas is grootliks op die ou olifant-voetpad gebou. Waar dit nie gebeur het nie, kan ’n mens die olifant-voetpad nog duidelik sien.    Foto:HEILIE COMBRINCK

Die ou Stormsrivierpas is grootliks op die ou olifant-voetpad gebou. Waar dit nie gebeur het nie, kan ’n mens die olifant-voetpad nog duidelik sien. Foto:HEILIE COMBRINCK

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

DIEP in die Tsitsikammabos staan die reus daar met sy knopneus en hartseer gesigsuitdrukking.

Grotes om hom het onder die byl van die mens geval, kleineres het in hul plek opgestaan en hoog gegroei om ook deel van die kuswoud-blaredak te vorm.

Die ou man staan so half eenkant, langs die grondpad van die Stormsrivierpas wat Thomas Baines in 1884 gebou het. Die pas is grootliks op die oorspronklike olifant-voetpad gebou. Die grootvoete is lankal weg en dis net voetslaners, fietsryers en besoekers op die Woodcutter’s Journey wat die pad gebruik. Die N2-snelweg het jare gelede reeds die Stormsrivierpas vervang.

“Hierdie Baines-pas . . . dis klipwerk wat vir ewig staan,” sê Hainey Jacobs, die toergids van Stormsriver Adventures op die houtkappersroete deur Plaatbos in die Tsitsi-kamma Nasionale Park.

“Sien julle daar doer onder, daar is die rivier, nou lyk hy glad nie stormagtig nie, maar glo my, hy kan baie ongeskik raak,” sê hy.

“Ons sit nou hier op ’n vragmotor en op die pas wat Thomas Baines gebou het . . . kan julle net dink hoe moes dit jare gelede gewees het vir die mense wat hier moes deur met ossewaens . . . en dié pad was baie nouer?”

Hainey kyk op na die Kaapse Hardepeer (Olinia ventosa).

“Hierdie boom met die gesig was 134 jaar gelede al ’n grootman toe hulle die pad hier kom bou het. Vandag is hy so 450 jaar oud,” sê hy.

’n Gautenger het die menseboom hier ontdek, vertel Hainey.

“Hy is Naas Prinsloo . . . hy het onse oë vir ons kom oopmaak en as natuurgids is ek hom ewig dankbaar.”

Hainey vertoef nie te lank by die “menseboom” nie, want vir hom is die kuswoud ’n skatkis vol van inheemse juwele wat hy met die besoekers wil deel. Selfs ná ’n piek- niek op die verste punt van die roete, op die teruggekeer Stormsrivier toe, bly hy sy ryk boskennis deel.

Hainey praat die bos oop vir sy besoekers, op só ’n manier dat ’n inheemse woud nooit weer “net” ’n klomp bome bymekaar sal wees nie.

’n Mens sal altyd wonder oor die ineengeweefde worteltapyt onder jou voete, hoe die bome mekaar nie net geanker hou nie, maar ook mekaar waarsku teen blaarvreters. Jy sal wonder watter boom nou alweer knoppies op sy blare uitstoot sodat die insek wat eiers wou kom lê, sal dink daar is reeds eiers gelê en dan aanbeweeg.

Jou oë sal oop wees vir die Swarttowerhasselaar (black witch hazel), want nou weet jy – hierdie unieke plant sorg dat die inheemse woud sy grond- en lug vogtigheid behou.

Hainey glimlag. “Dis hoekom die inheemse bos nie maklik brand nie – danksy die hasselaar wat help keer dat die vogtigheid uit die bos verdamp en help sorg vir klammigheid in die grond.”

Dit is vrugbare grond, grond wat jy ruik, grond waarin jy jou hande diep wil indruk om twee handevol uit te haal en te kyk hoeveel lewe daarin is.

Maar jy wil nie skade aanrig nie, so dan staan jy maar net stil en jy asem die bos in en luister na die boskonsert, aangebied deur voël, sonbesie, wind en ritselende blare.

Asof hy die betowering van dié magiese bos wil beklemtoon, skuifel ’n dwergverkleurmannetjie voetjie vir voetjie teen ’n boomstam uit . . . só suutjies dat ’n mens dit amper miskyk.

Hainey kyk die verkleurmannetjie agterna tot hy heeltemal uit sig is en sê dan: “Ander bosdiere gaan julle nie sommer sien nie, hulle kom saans uit. Miskien net Meneer Aap en Mevrou Bobbejaan.”

Die vragmotor met die besoekers agterop ry ’n ent verder voor Hainey weer “Fie-fie-fie!” fluit en op die voertuig se dak klop om stil te hou.

Teen dié tyd het almal al geleer om op die bankies te bly sit, want dit is woerts-warts, dan is Hainey weer terug. Dié keer hou hy vaalgrys blaartjies vas, en kneus dit tussen sy vingers.

“Ruik. Dit is nou wat hulle noem Khoi-goed. Hoekom? Omdat die Khoi vroeër jare ’n klomp van hierdie as beddegoed bymekaargemaak het,” vertel hy.

Die gekneusde blare ruik na sitronella – die middel wat ’n mens aanspuit of die seep waarmee jy was om goggas van jou lyf te hou. Hainey glimlag weer breed. “Die Khoi was slim om dit te gebruik, nê?”

Ver onder kronkel die Stormsri-vier soos ’n blink slangetjie deur die ravyn. Vanaf die pas is die uitsig op die steil rotswande grootliks verberg deur boom, bos en struik.

Suidwaarts dreun die branders teen die ongerepte kuslyn, noordwaarts dreun die verkeer op die N2, en ’n mens wonder: As Baines nooit die Stormsrivierpas op die olifant-voetpad gebou het nie, sou die olifante nog hier geloop het?

Vat jou tyd . . .

Vir Hainey se toer en die geleentheid om die bosreus “in die oë” te kyk is dit opsigself die moeite werd om die 166 km van Port Elizabeth hierheen te ry, maar vir wat sal ’n mens nou so iets doen wanneer daar nog so baie ander goed is om hier te sien?

Sit eerder ’n hele naweek – van die Vrydagmiddag tot die Sondagmiddag – opsy om hierdie streek behoorlik te verken. Die meeste besoekers keer terug, want selfs nie eens ’n naweek is genoeg vir alles wat ’n mens hier kan sien en doen nie.

Besluit vooraf waar jy oral wil aandoen en reël jou afsprake en verblyf daarvolgens. Andersins word jy dalk tot so ’n mate oorwel-dig deur die keuses dat jy net op een plek gaan sit en tuisgebroude bier drink óf jy gaan jaag van die een ding na die ander.

Op die Sondagmiddag, op jou pad huis toe, kan jy gaan inloer by die groot boom 3,8 km van Stormsrivier af, maar moenie jaag nie. ’n Mens kuier nie tjoef-tjaf by ’n gerekende oudste van 800 jaar nie.

Hierdie Outeniqua-geelhout to-ring nagenoeg 36,6 meter die lug in, en sy stam is sowat 9 meter in omtrek. Om die woudvloer te beskerm het Sanparke ’n paadjie van planke van die ingang, deur die bos tot by die boom aangelê. Pak ’n piekniekmandjie en gaan kuier rustig aan die voet van hierdie bosreus.

As daar dan nog genoeg tyd is, kan jy by die Oudebosch Padstal stop vir ’n Protea-toer om alles te hoor en te sien van dié besonderse plante wat onder die oudste op aarde gereken word. Die Koningsprotea is Suid-Afrika se nasionale blom en word só genoem omdat sy blom lyk soos ’n kroon.

Die Oudebosch-padstal lê die naaste aan Port Elizabeth (138,2 km) en net so oor die 30 km verder wes lê die dorpie Stormsrivier.

Die dorpie en die rivier

Moenie dié dorpie verwar met die Stormsrivier wat ’n paar kilometer daarvandaan verbyloop nie. Die Stormsrivier is só genoem vanweë die kolkende watermassas wat ná swaar reënval in veral die opvangsgebied deur die rivier kan jaag.

In Maart 2000 het 13 mense verdrink toe hulle met binnebande op die rivier gevaar en ’n “watermuur” wat verder binnelands opgestoot het, hulle getref het.

Daar is verskeie voetslaanroetes in die omstreke van Storms- en Bloukransrivier, asook in die nabygeleë Tsitsikamma Nasionale Park, naamlik die Goesa- (2 km), Plaatbos- (tussen 6 en 9 km), Stinkhoutkloof- (8 km), Rugbos- (tussen 1,3 en 3,1 km), Big Tree Ratel- (2,6 en 4,2 km), Blouduiker- (3,7 km), Loerie- (1 km) en die Waterval-roete wat ook die eerste drie kilometer vorm van die wêreldgewilde Ottervoetslaanroete (42,5 km).

Die Otter neem die stapper vyf dae lank oor berg en strand, deur kloof, ravyn en rivier en verby krans deur ’n onbeskryflike natuurskoon tot by Nature’s Valley.

Nog ’n voetslaanroete is die 2 km-plank-loopweg na die hangbrug oor die mond van die Stormsrivier – party plekke is dit ’n steil klim, maar die beloning is ’n uitsig oor die onstuimige see en riviermonding.

Anderkant die 77 meter lange hangbrug sit mense mymerend op die rotse en kyk en luister hoe die see ghwaghwarrrr! oor die spoel-klippe inrol en uitrol.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.