Vat ’n plaaspad na die Gamtoosvallei

2016-09-29 06:00
Waterwiel Boerdery-pakhuisbestuurder Elbie Potgieter, verduidelik aan Gamtoos Toerisme-toergids Kobus Kok hoe hul hidroponiese pypstelsel werk. Hier wys sy vir hom een van hul Rooi Oak-plantjies.             Foto’s: MONIQUE BASSON

Waterwiel Boerdery-pakhuisbestuurder Elbie Potgieter, verduidelik aan Gamtoos Toerisme-toergids Kobus Kok hoe hul hidroponiese pypstelsel werk. Hier wys sy vir hom een van hul Rooi Oak-plantjies. Foto’s: MONIQUE BASSON

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

AS jy moeg word vir die lewe in die stad, vat die pad na Gamtoosvallei en draai af op ’n stowwerige grondpad na ’n Hankey- of Patensie-plaas. Daar is min dinge wat “lewe” en vrede” skree soos kraakvars slaai, glinsterende songebakte aarbeie, komkommers wat die takke laat kreun en boepens aartappels.

Stadsjapies kan nou die beste van die soel, helderblou dae maak en ’n draai by een van Kouga se vele boerdery-bestemmings gooi. Gamtoos-toerisme, in samewerking met die plaaslike boere, bied opvoedkundige toere deur hul boorde en pakhuise aan belangstellende besoekers.

“Afgesien daarvan dat dié uitstappies ’n heerlike buitelug-doending is, bied dit mense die geleentheid om ’n bietjie oor die oorsprong van hul voedsel na te dink,” sê Gamtoos Toerisme-toergids Kobus Kok (70).

Gelukkig vir Kobus, wat op Patensie gebore is, het elke plaas sy eie bekwame gids wat eerstehands by die boerdery betrokke is.

Waterwiel Boerdery

Ons eerste stop is by Waterwiel Boerdery van Charlie Malan in Patensie. Híér kraai slaai en kruie koning.

Hulle verskaf daagliks tussen 2 000 en 5 000 pakke slaai per produksielyn en 1 000 pakke kruie aan verbruikers in die Oos-Kaap. In Desember kan die hoeveelheid vier keer meer wees.

Pakhuisbestuurder Elbie Potgieter kry ons by hulle hidroponiese pyptafels waar slaai van verskillende grotes hul bossiekoppe parmantig by die honderde klein gaatjies uitsteek.

Gly-gly in die modderpaadjies verkyk ek my aan die see van groen en rooi. Elbie lag en beduie my na droë grond.

Dit is dus wys om gemaklike skoene aan te trek. En moenie bang wees om hulle vuil te kry nie.

Elbie verduidelik die hidroponiese pypstelsel beteken in eenvoudige taal water waarmee plante gegroei word. “Ons groei dus slaai net met water en “medisyne”. Die “medisyne” verwys bloot na byvoegings om siektes soos swamme te voorkom. Die hele idee is om ge-sonde slaai en kruie te kweek deur slegs van water gebruik te maak.”

Volgens Elbie boer hulle veral met die salanova-familie - ’n spesiale soort slaai wat ingevoer word.

Sy tel passievol die verskillende soorte slaai af, hopeloos te vinnig vir my om neer te pen: rooibotter, rooi oak, groen glace, granite en nog vele meer. “Elkeen het sy eie unieke smaak,” sê sy.

Verder boer hulle met meer as 20 verskillende tipe kruie.

Volgens haar neem dit sewe weke van plant tot oes en is hul slaai seisoen-gebonde.

Dan neem sy ons na haar koninkryk - die pakhuis.

Eers is dit jas aantrek en haarnet opsit, dan vir hande was en ontsmet - ek voel amper soos ’n dokter wat vir ’n goot operasie gereedmaak.

Elbie verduidelik stap-vir-stap hoe die pro-ses van die land tot by die verspreiding werk.

Hulle ontvang hul eerste slaai rondom 08:10, vandaar word die slaai afgekoel voor dit diep gereinig, gesny, en verpak word.

Die hele proses neem ongeveer ’n uur.

Volgens Elbie is al hul slaaie gereed-vir-eet. Dit beteken dat daar geen kruiskontaminasie plaasvind nie.

“Al ons produkte word soggens vars gepluk. Produkte van die vorige dag gaan na ons komposhoop,” sê Elbie. “Kwaliteit is ons belang-rikste kommoditeit.”

Om Waterwiel Boerdery te besoek, skakel Elbie by 084 701 4482.

Malan Growers

Ons volgende stop is Malan Growers by die plaas Stuk van Acht op Patensie.

Rye en rye tonnels en kweekhuise met hul wit plastiekomhulsels vorm ’n skerp kontras met die grys wolke wat begin saampak. Hier word elke druppel reën verwelkom, maar die reën bly ontwyk.

Dié onderneming is een van slegs ’n handvol komkommerboerderye in Suid-Afrika, maar hul groot onderskeid is die feit dat die dryfveer agter die besigheid ’n vrou was. Marí Malan het haar meer as 20 jaar met die bemarking en uitbrei van die besigheid beywer. Sedert haar dood, probeer haar twee dogters Hanna-Marí Opperman en Hilde Malan haar skoene vol staan.

Elna Williams en pakhuisbestuurder Annatjie Dichabe is ons gidse.

Elna verduidelik die plante word in sakkies met saagsels geplant en kunsmis en water word gereeld per rekenaar deur ’n drupbe-sproeiingstelsel voorsien.

Elke plant word teen ’n sekere hoek opgelei. “Ons het agtergekom dat as die plant so effens skeef is, trek die komkommers minder skeef en dra die komkommerplant ongeveer 50% meer komkommers per plant,” vertel Elna.

Tot my verbasing word onderstamme selfs in dié bedryf gebruik. Komkommerkultivars word op ’n sekere waatlemoenstam geënt en al die plantjies word vanaf spesialiteitskwe-kerye bekom.

’n Komkommerplant se lewe is ses maande, sê Elna.

Buiten vir die groot komkommers (Engelse komkommers) word hier ook Mediterranean- en Israeli-komkommers geplant. Eersge-noemde is die mini-komkommers wat mens in die winkels koop, terwyl laasgenoemde ’n argurkie-grootte komkommer is.

Elke komkommer word met ’n spesiale ring gemeet om te sien wanneer dit reg is om gepluk te raak.

Na gelang van die seisoen word komkommers drie tot ses dae per week geoes en by hul pakhuis op die plaas verpak. Die komkommers word dadelik in plastiek (shrink wrap) omhul, om te keer dat hulle uitdroog of pap raak.

Volgens Annatjie, oes hul nagenoeg 76 000 groot komkommers per week, asook 2 000 mini-komkommers en ’n gemiddeld van 15kg argurkie-grootte komkommers per dag.

In die pakhuis sien ons hoe elke komkommer sy plastiek-baadjie aantrek en volgens soort en grootte sorteer word voor dit die supermark-van-keuse se bepaalde plakker kry.

Malan Growers spog verder met 50 tonnels sitrus.

Hul produkte is plaaslik en in die groter Oos-Kaap beskikbaar. Hulle voer uit na Johannesburg, Bloemfontein en Durban.

Om Malan Growers te besoek, skakel Hanna-Marí by 071 262 5165.

Mooihoek

Ons draai die motor se neus in die rigting van Hankey waar ons by Mooihoek, die plaas van dinamiese boervrou Madelé Ferreira en haar man, Johan, gaan kuier het.

Die plaas lê knus te midde van die lowergroen sitrusboorde in Hankey en is die perfekte plek om met die gesin ’n bietjie tyd in die veld deur te bring. Buiten vir die 12 hektaar aarbeie word daar spinasie, vye, appelliefies, frambose en bloubessies verbou. Kale (boerkool) is onlangs by die kosmandjie gevoeg weens die groeiende aanvraag daarna.

Pakhuisbestuurder Marli van Biljon neem ons vir ’n vinnige toer deur die pakhuis - maar nie voor ons ons rooi jasse en rooi haarnette opgesit het nie. Hier is niks doodgewoon nie. Selfs die werkers spog met helder pienk of lemmetjiegroen oorjasse - kompleet met groot wit kolle.

Almal is hard aan die werk.

Volgens Marli, word Graad 1-aarbeie heeljaar daagliks aan verskeie supermark-groepe en nasionale markte gelewer. Graad 2-aarbeie word opgesny en òf gevries òf gedroog.

Hulle hoop om eersdaags hul eie aarbeisap te produseer.

Ons volgende stop is by ’n span wat besig is om aarbeie te oes. Honderde rye aarbeie groet ons.

Die aarbeie word vyf dae per week geoes, gesorteer volgens grootte, en direk in die lande in plastiek bakkies verpak waarna dit onmiddellik na die pakhuis geneem word om verkoel te word.

Ek vra oor die plastiekseile wat oral in die landerye te sien is. “Wanneer dit hard reën, word die seile vinnig oor die aarbeiplante ge-trek om hulle teen die reën te beskerm,” antwoord Nico Plaatjies wat al vir 16 jaar ’n kennersoog oor die wekerks hou.

En die wit blomme aan die punt van elke ry aarbeie? “Dit lok die bye wat die aarbei-bloeisels moet bestuif,” sê hy.

Mooihoek verskaf ’n permanente werk aan 160 plaaslike inwoners in ’n omgewing wat tradisioneel seisoen-gebonde is. Nagenoeg 70% van die werkers is vroue.

Vars aarbeie kan by die plaas gekoop word.

Vir ’n aarbei-lekker uitstappie, skakel Ma-delé of Marli by 042 284 0100 tydens kantoorure.

Koeltehof

Ons besoek staan op ’n einde. Koeltehof, waar die aartappels uit die grond borrel, is die laaste stop. Die reuk van vars omgedolwe grond hang swaar in die lug . . .

By Koeltehof boer Gerhard Scheepers en sy seun, Hardu, met aartappels en sitrus na hulle in die laaste paar jaar van tabak begin wegbeweeg het.

’n Wit steekbaardbrak kom groet vriende-lik waar ek grootoog na die wasproses staar - notaboek en kamera vergete. Honderde aar-tappels word met ’n tuinslang skoongespuit voor dit op ’n vervoerband beweeg na waar vroue met flink hande die aartappels volgens kwaliteit en grootte sorteer.

Van hier beweeg dit na ’n ander vervoerband voor die aartappels in verskillende aartappelsakke val - gereed vir die supermark.

Werkers hou deurentyd ’n wakende oog om seker te maak die “verkeerde” aartappel beland nie in ’n sak nie.

Vir ’n besoek aan Koeltehof in Patensie, skakel Kenau Scheepers by 042 283 0598.

  • Plaasbesoeke is slegs weeksdae en per af-spraak. Vir meer inligting, besoek Tolbos in Patensie of skakel hulle by 042 283 0437.

Join the conversation!

24.com encourages commentary submitted via MyNews24. Contributions of 200 words or more will be considered for publication.

We reserve editorial discretion to decide what will be published.
Read our comments policy for guidelines on contributions.
NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
ADVERTORIAL
Competition regulation for a growing and inclusive economy

ADVERTORIAL: The Competition Commission of South Africa is conducting advocacy work in the South African automotive aftermarket industry and has gazetted a Draft Code of Conduct for public comment.

/News
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.

Settings

Location Settings

News24 allows you to edit the display of certain components based on a location. If you wish to personalise the page based on your preferences, please select a location for each component and click "Submit" in order for the changes to take affect.




Facebook Sign-In

Hi News addict,

Join the News24 Community to be involved in breaking the news.

Log in with Facebook to comment and personalise news, weather and listings.