SJOE . . . die stof het gaan lê.
Nog net die reuk van grofgeskut hang in die lug. Want verkiesings is nie vir sissies nie. Ons is nog nie in die VSA-liga nie – dáár is alles fantasmagories, hiper-eksta-ties. Hansworsery is daar tot ’n fyn kuns onwikkel. Maar ons is darem ook nie te vêr agter nie.
Soos alle vorige eleksies, het die afgelope een ook sy kwota harlekinades en harlaboerla gehad. Om van ka-rakters nie eens te praat nie. Wie herken nie die volgende argetipes nie?
Die Profete: “Ons sal regeer tot die einde van die wêreld!” Diep geestelike insig. Man, diep, sê ek vir jou. Die Sosialiseerders: So elke paar jaar peul hulle uit hul huise en paleise op pad na die pondokke; loop in hulle gratis t-hemde van huis tot huis, drink tee tot barstens toe, vertel vir almal van die Goeie! Dinge! wat kom, groet elkeen met die hand, neem hand-om-die-blaas foto’s met elke Jan Rap. Soen en aai elke kwylende baba. Die Liegers: As jy na húlle uitleg van die geskiedenis luister, weet jy nie wie 2000 jaar gelede in die Kaap geland het nie: daardie gruwelike Jan van Riebeeck, of die vrotter Harry Potter. “Slange bring slange voort!” gil die prez, met verwysing na die vorige regime en hul kinders tot in die vyftigste geslag. Die Populistiese Vreesaanjaers: “As jy nie vir ons stem nie, is dit terug na ellende, terug na pap en marog, terug na donkiekarre, terug na whatever . . .” Die Militaristiese Gootheidswaners: “Ons sal die slag-huise vat, ons sal die huise vat, ons sal die wildtuine vat, ons sal die banke vat...vat.” (Laat my dink aan die outjie op die Kaapse parade wat te veel papegaaisap gedrink het en later na ’n vurige straatpreek luister: “Djy moet djouself regkry! Die doodsengel sal djou sommer skielik kom vat!” Trek die besopene sy ruggraat reguit, vingerswaaiend: “Luishter, priest, disj nie sjommer net – hik – vát nie!”). En dan natuurlik die verfynde Diplomaat: (na ’n kragtige toespraak) “Elkeen wat R100 vir die party wil skenk, staan nou op julle voete,” en toe saggies aan die orkesleier: “Gou-gou, speel die volkslied!” Ná al dié prikkelende swart humor – uiteindelik die groot dag. Stemdag. Die kandidate of hul afgevaardigdes se nederigheid: Die parlementslid staan saam in die lang ry – “Dis waar ek hoort: tussen my mense.” Eish. Smaails wat rondom die ore strek. Dan in die stemlokaal die gewyde atmosfeer: die uiterste professionaliteit (geen grappe nie en speaks only English ). Oor die internet die gewone stories van gesteelde en gekookte stembriewe (Al gehoor van Hoax Slayer?). Die gelowiges wat alles op die skerm glo: “Dis op Facebook , jy weet!”
Dan is alles verby. Niks het verander nie. Die osse stap nog aan deur die stowwe (op die Astonbaai-pad), die see is nog blou, die volk is weer op hul eie, en die leiers terug in hulle paleise. Die regerende party stel nuwe beeldpoetsers aan, almal spring met ’n yslike vaart weg, die vorige lede vertel hoe sleg die nuwes gaan vaar, en die nuwes kap terug met hoe pateties die voriges was. Ho-hum . Die t-hemde en verskillende kleure barette word nie weggepak nie – dit word gedra, want volgende jaar is daar weer nuwes, teen ’n koste van honderde duisende. En tussen alles deur hoor ek ’n kind van honger huil. “Tula, tula, stil my kind. Daar is nog bietjie melk in die bottel.”
Verstaan jy wat ek in Afrikaans probeer sê?
I beg yours....?