Die vuurwarm fees is aan...! Anibrand se vreugdevure gaan Februarie nog hoër brand want hierdie gemeenskapsfees word in ’n nuwe formaat, nog grootter en beter aangebied.
Die fees word nie meer deur Brandwag Hoërskool aangebied nie. Die Anibrandfeeskomitee het die naamregte oorgeneem, die naam verander na Anibrand en die fees se wins word nou vir liefdadigheid aangewend.
“Dit is die lekkerste gevoel om almal so te sien saamkuier by die fees. Dit is ’n gesinsfees. ’n Fees vir almal om te vergeet van poli-tiek en finansiële kwessies en om te ontspan terwyl van ons land se beste sangers feesgangers vermaak,” sê Tossie van Loggerenberg van Barklystraat Teater.
Die opgewondenheid oor die nuwe fees- formaat word vroeg in Februarie by Barkly-straat Teater gevier met ‘n Voedsel- en Wyn-aand op Donderdag die 11de.
“Hierdie fees hoort op Uitenhage. Daarom het ons langtermynplanne om die fees uit te bou vir die hele gemeenskap.”
Volgens Karen Basson, mede-organiseerder het die Anibrand, as gemeenskapsfees, projekte geidentifiseer wat finansieël ge-ondersteun gaan word. Geestesgesondheid se vier huise vir verstandelik gestremdes is as 2016 se begunstigdes aangewys.
Op 25 Februarie tree Andries Vermeulen op en op 26 Februarie is dit Emo Adams se beurt om Anibrand vuurwarm te hou. Dié optredes word in die Biertent aangebied met bespreekte plekke by tafels. Saterdag, 27 Februarie is dit voldag feestyd met bekende kunstenaars op die hoofverhoog soos Willem Botha, Blackbyrd, Lianie May, Jay, Theuns Jordaan, Snotkop en Francois van Coke.
Die room van plaaslike sangers sal by die kunsmark-verhoog, in die kuiertent en hoofverhoog optree.
Vir die eerste keer gaan ’n fees-vir-die-gees deel van Anibrand wees wanneer gospelsangers op Sondag, 28 Februarie optree. KykNET bied die Jukebox-piekniek aan met Joe Niemand, Pieter Koen, Leah, Jennifer Zamudio en Bobby van Jaarsveld.
Die gewilde uitstalling van kuns sal weer by Barklystraat Teater aangebied word.
“Daar is opwindende planne met nuwe uitstallers soos Boyz & Toyz sowel as feeskompetisies,” sê Van Loggerenberg.
Anibrand kaartjies sal vanaf Januarie 2016 beskikbaar wees. Stalletjiehouers is welkom om nog aansoek te doen. Vir aansoekvorms stuur ‘n epos na wilma@anibrandfees.co.za of skakel 072 963 2206.
- Vir navrae oor die fees bel 074 867 5050 of admin@anibrandfees.co.za