VOORDAT Oos-Kapenaars hulself vir die wintermaande in kokonne van komberse toewikkel, kan hulle na ’n wilde, wonderlike naweek in die hartjie van die Sondagsri-viervallei uitsien.
Die Spar Kirkwood Wildsfees van 24 tot 26 Junie sal dié dorp in ’n sprokiesland vol feetjies, sterre en harle-kyne omskep. So het die organiseerders op die bekendstelling van die fees beloof.
Boonop sal dit die hele familie betower, sê feesdirekteur Jenni Honsbein. “Sover ons weet, is ons die enigste groot fees in Suid-Afrika wat vir die hele gesin voorsiening maak.”
Dié vermaak sluit in optredes deur topkunstenaars soos Eden – wat die eerste keer sedert hul hereniging in die Oos-Kaap optree – ADAM, Snotkop, Lianie May, Ray Dylan en vele meer.
Een van Honsbein se grootste verrassings is optredes deur Zip Zap, ’n Kaapstadse sirkusgroep wat met hul Fun Factory-vertoning kinders en volwassenes na hul asem sal laat snak.
Kinders sal ook vermaak word deur die Frozen Forest, ’n feetjietuin wat spesiaal vir die fees geskep word. Kosie Beukes (8), ’n kranige musikant van Boksburg wat 13 instrumente kan bespeel, soos konsertina, trekklavier en banjo tree ook op. Sy oupa Kooos vertel trots: “Elke middag as hy van die skool tuiskom, skuif hy agter sy instrumente in om te oefen.”
Ander hoogtepunte sluit in die wildveiling, ’n bokhaar-ekspo, kookdemonstrasies en die Tiki-eilandstylkroeg wat vir die fees ingerig sal word.
- Kaartjies vir die fees is beskikbaar by die Spar Kirkwood Wildsfees-kantoor by 042 230 0064. Meer inligting is te kry by www.wildsfees.co.za