AFRIKAANS lê Jack Parow na aan die hart, en dié kletsrymer beskou homself as ’n verteenwoordiger van sy moedertaal waar hy ook al gaan.
“Ek besluit nooit vooraf in watter taal ek iets gaan skryf nie. Maar ek represent áltyd Afrikaans.”
Hy het reeds ’n platinum-album en suksesvolle oorsese optredes onder sy indrukwekkende pet. Baaienaars kry gou die kans om hom in lewende lywe te sien.
Parow het onlangs van ’n suksesvolle toer in Europa teruggekeer.
“Dit was baie humbling. Ek was een van die headline acts by reuse-feeste in België en Holland.”
Toe hy aanvanklik op die musiektoneel verskyn het, was baie mense gekant teen sy alternatiewe styl – wat vloekwoorde en sterk sosiale kommentaar bevat.
“Ek het altyd baie kritiek van meer konserwatiewe mense gekry. Ek kry dit steeds, maar dit is asof mense besef het dat ek hier is om te bly. En dit maak nie saak hoeveel k— enigiemand my gee nie, ek gaan nêrens heen nie.”
Parow se Baaise optrede is deel van die Spring Fever-konsert wat Saterdag 29 Augustus by die McArthur-swembaddens gehou word. Ook Pink Lippz, The Lucas Reunion, Richard Saunders en Jason Aitken sal hier te sien wees.
Die program begin om 5nm. Kaartjies kos R80 by Quicket of R100 by die deur. Niemand onder 18 jaar word toegelaat nie