Beachview-oord se verval ‘knou werkskepping in PE’

2019-09-04 06:00
Jason Grobbelaar (regs), DA-raadslid vir wyk 40, het afgelope week kopieë van ’n versoekskrif oorhandig aan Johan Wagenaar (links), eienaar van die plaaslike Spar-kettingwinkel, en Jennifer Futter, voorsitter van die Seaview Concerned Citizens-groep. Hulle wil die versoekskrif teen Oktober aan die metroraad gee. Foto: Lulama Zenzile

Jason Grobbelaar (regs), DA-raadslid vir wyk 40, het afgelope week kopieë van ’n versoekskrif oorhandig aan Johan Wagenaar (links), eienaar van die plaaslike Spar-kettingwinkel, en Jennifer Futter, voorsitter van die Seaview Concerned Citizens-groep. Hulle wil die versoekskrif teen Oktober aan die metroraad gee. Foto: Lulama Zenzile

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

DIE eens gewilde Beachview-vakansieoord is ’n spookoord met oënskynlik geen vooruitsig om binnekort weer somervakansie-herinneringe te skep nie.

Die oord in Port Elizabeth, met vakansiehuise ’n paar tree van die see af, se hekke is in 2015 gesluit.

Dit is aanvanklik vir opknappingswerk toegemaak, maar vier jaar later is daar net ’n raamwerk van die oord nog staande.

Die ingangshek langs die verbleikte geel muur waarop die woorde “holiday resort” saam met Beachview eens gepryk het, is met draad toegemaak, maar binne verklap die vernielde ablusieblok vir dagbesoekers, asook die vakansiehuise en rondawels ’n verhaal van vandale wat sonder moeite toegang tot die oord het.

Bykans al die vensters van elke vakansiehuis is stukkend. Benewens vir enkele matrasse en stoele is die huise van alles wat waardevol is, gestroop. Binne die ou kantoorgebou is slegs ’n ou faksmasjien. Pamflette vir die oord wat op die vloer lê, herinner aan die oord se gloriedae.

“Mense moes hier maande lank vooruit bespreek om ’n staanplek vir hul woonwa of ’n plek in een van die huisies te kry. En soggens moes dagbesoekers al om 06:00 voor die hek in ’n ry staan om die dag hier te geniet,” sê Jason Grobbelaar, plaaslike DA-raadslid van die gebied.

Die nuutste fasiliteit op die oord is tientalle braaiplekke, elkeen sowat 60 cm uitmekaar gebou, wat net duskant die dagbesoekers se ablusieblok staan.

“Die braaiplekke is die mees onpraktiese goed. Dit is duidelik hier aangebou deur die vorige huurder (van die oord) om vinnig te wys hier word opknappings gedoen, terwyl die plek eintlik uitmekaar val.”

Grobbelaar sê die oord word deur die Nelson Mandelabaai-metro besit, wat op sy beurt ’n huurder vir die bestuur daarvan aanstel.

Die oord is egter in 2015 as ’n veiligheidsrisiko beskou en gesluit.

Ekonomiese impak

Die sluiting het vir Johan Wagenaar, eienaar van die Spar-kettingwinkel in dié afgeleë kuswoonbuurt, ’n 20%-daling in sy sake beteken.

“Dit het ongelukkig ook met werkverliese gepaardgegaan,” sê Wagenaar.

Hy het gehoop die oord sou net tydelik, “ ’n jaar op die langste” gesluit wees. “Ek het self talle e-posse aan die munisipaliteit gestuur om te vra wat gedoen word om die oord te red, aangesien die sluiting ’n hele kettingreaksie op die plaaslike ekonomie het.”

Grobbelaar sê die vorige DA-geleide koalisieregering het die impak van die oord se sluiting besef. Hulle het besluit om van die oord se huidige huurder ontslae te raak aangesien daar geen verbetering te sien was nie.

“Ongelukkig het die metro nooit in die huurkontrak uitgestippel hoe die oord bestuur moet word nie. Dus het die huurder tegnies geen ooreenkoms verbreek nie.”

Die geskil om van die huurder ontslae te raak het later in die hof gedraai, maar die DA-geleide koalisieregering was vasbeslote om die vakansieoord weer oop te stel.

Vir die 2017-’18-boekjaar het hulle R5 miljoen begroot vir opgraderings aan die oord. Maar weens die hofgeding kon die geld nie bestee word nie en daar is besluit om die geld later met ’n aansuiweringsbegroting in te bring, sodra die hofsaak afgehandel is.

Die DA-koalisieregering is egter in Augustus 2018 tydens ’n wantrouemosie uitgestem en ’n nuwe koalisieregering met die UDM se Mongameli Bobani as burgemeester, het oorgeneem.

Volgens Grobbelaar het die huurder van die oord ook toevallig die afgelope Desember besluit om hom aan die hofsaak te onttrek, wat dus die oord weer in die hande van die metro laat.

“Dit beteken sedert Desember is die metro vir die oord verantwoordelik. Tot nou het ons nog geen begroting hiervoor gesien nie.

“Die R5 miljoen wat die DA-koalisieregering wou bestee, sou minstens die oord vir dagbesoekers kon heropen, wat beteken die plek sou nou al geld ingebring het terwyl daar aan die volgende fases gewerk word.”

Hoewel die oord geen geld inbring nie, word daar geld bestee aan minstens vier veiligheidswagte wat die oord beman.

Tydens Netwerk24 se besoek aan die oord, wat net langer as ’n uur geduur het, was daar geen teken van een van die twee veiligheidswagte nie. Hulle is wel later in een van die huisies aangetref.

Versoekskrif

In die hoop om druk op die metro toe te pas, het Grobbelaar ’n versoekskrif opgestel waarmee hy die metro wil dwing om antwoorde te gee oor sy toekomsplanne vir die oord.

Grobbelaar gaan ’n versoek rig vir ’n begroting wat nog in die huidige boekjaar vir opgraderings beskikbaar gestel moet word, asook dat private beleggers uitgenooi word om sakeplanne voor te lê vir die bestuur van die oord.

Intussen het Jennifer Futter, voorsitter van die Seaview Concerned Citizens-groep, dié versoekskrif verwelkom.

Sy sê die oord speel ’n belangrike rol in werkskepping in die gebied.

Volgens haar bied die verlate oord ook ’n wegkruipplek vir misdadigers wat die inwoners toenemend teister.

Grobbelaar beoog om die petisie teen Oktober by die metro in te handig, waarna hy hulle 30 dae sal gee om te reageer.

Die Nelson Mandelabaai-metro se woordvoerder, Mthubanzi Mniki, het gesê dat die munisipaliteit deur ’n regsproses die oord se ooreenkomste gekanselleer het, en dat die ontwikkeling- en bestuursbeleid deur die raad aanvaar is.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.