TOE Leigh-Anne Barnard se dogtertjie, Deané Bezuidenhout, 13 maande gelede doof gebore is, het sy eers nie geweet wat die toekoms inhou nie, maar nadat sy verlede week Maandag kogleêre inplantings in albei ore gekry het, sien sy daarna uit dat haar kind met die pienk wangetjies dalk eendag ’n danser kan wees.
Sy is die eerste kind in Port Elizabeth wat ’n gelyktydige bilaterale kogleêre inplanting ontvang het.
Barnard van Kensington in Port Elizabeth kyk liefdevol na haar kind waar sy op die ondersoektafel in dr. Iain Butler, ’n oor-neus-en-keel-chirurg by Bay ENT, se spreekkamer in die Netcare Greenacres-hospitaal sit terwyl haar pa, Divan, haar vashou.
“My emosies was deur die dak. Ek kon dit nie aanvaar nie.
“Die dag ná haar geboorte is ’n gehoortoets gedoen. Dié toets en twee ander, onderskeidelik twee en een week later, het misluk. Toe sy ses maande oud was, is dit bevestig dat sy doof is.”
Butler sê hy het verstaan waardeur die egpaar gaan omdat hy in Bloemfontein sowat 100 soortgelyke operasies uitgevoer het.
“Dit is ’n emosionele en sielkundige ondervinding. Dit is iets wat jou lewe heeltemal verander. Aan die begin lyk die paadjie baie donker.”
Hy sê toe Deané by hom kom, moes hy eers die oorsaak van die gehoorverlies bepaal.
“Die bevestigingstoets is reeds afgehandel. Ons moes toe medies en radiologies vasstel of sy ’n kandidaat was vir kogleêre inplanting.”
“Ons skanderings het gewys dat die binne-ore normaal is en dat die probleem by die selle lê wat klank oordra na die gehoorsenuwee. Dit was toe belangrik om vir haar ouers die moontlikhede vir die pad vorentoe te gee,” sê Butler.
Volgens hom is daar die opsies van gesproke en gebaretaal.
Die operasie van vyf uur lank – sy eerste sedert hy by Bay ENT aangesluit het – was moeilik, sê Butler, maar het goed gegaan.
“Die verband is nou afgehaal en die wond moet genees.
“Wanneer die operasie uitgevoer word, word die elektrodes in die teater getoets. Ons kon sien dat die senuwee op die elektriese stimulasie van die elektrode reageer.
“Ons neem afmetings van hoeveel stimulasie nodig is en dit word gebruik deur die oudioloog om kalibrasie (mapping) uit te voer wanneer sy ‘aangeskakel’ word oor ’n paar weke.
“Ons gee dan stelselmatig meer en meer stimulasie sodat sy gewoond raak aan klank. Dit word oor die volgende paar weke verhoog tot die punt dat sy baie naby aan normaal kan hoor.”
Butler voeg by dat die ouers se harde werk daarna begin.
Die egpaar het besluit op spraakterapie vir Deané. “Maar voordat sy praat, moet sy eers leer om te luister,” voeg Barnard by.
Divan maak reeds planne dat sy oudste dogter ’n prokureur, dokter of geoktrooieerde rekenmeester word.
“Ek wil hê sy moet dans,” sê Barnard.