DIE ANC en die DA het die naweek wéér hul “groot kanonne” ingespan om stemme in die fel bestrede Nelson Mandelabaai voor die plaaslike verkiesing in te win.
Danny Jordaan, die ANC se burgemeesterskandidaat in die metro, is Saterdag deur Fikile Mbalula, minister van sport, en Pravin Gordhan, minister van finansies, na New Brighton vergesel, waar dié drie deur-tot-deur-besoeke afgelê het.
Die drie “groot kanonne” is hartlik deur inwoners verwelkom – ondanks onlangse spanning oor die ANC se kandidatelyste in sekere wyke hier.
Gordhan het gesê hy glo dat Jordaan en die ANC in die metro binne die volgende vyf jaar groot verandering kan bring.
Hy het veral Jordaan se planne om infrastruktuur te verbeter en die stad se toerisme te ontwikkel, geprys.
Jordaan, wat ‘n tweede draai in New Brighton gemaak het, het gesê dis tyd om hul verkiesingsveldtog te verskerp aangesien daar minder as ’n maand oor is voor die verkiesing.
Hy glo, ten spyte daarvan dat die DA voel dat húlle die metro op 3 Augustus gaan oorneem, dat die ANC tóg sal wen en nou harder sal werk om nóg stemme in te win.
“Ja, die verkiesing is om die draai,” het hy gesê.
“Maar die proses is ’n marathon. In ’n marathon begin ’n mens nie onmiddellik nael nie. Jy nael eers aan die einde. Ons nael nóú.”
Intussen het die DA-leier Mmusi Maimane Saterdag ook weer ’n Baaise draai gemaak om met inwoners van Walmer-township te praat oor die party se hoop om werksgeleenthede ná die munisipale verkiesing te skep.
Maimane het ook gekap na planne om ’n nuwe ampsvliegtuig vir pres. Jacob Zuma te koop.
“Dié R4 miljard wat genoem word, kan 80 000 toelae vir kleinsakeondernemings wees, of universiteitsgeld vir duisende jongmense in die stad.”
Maimane, wat reeds talle kere vanjaar in Port Elizabeth was, het ook beloof om byna elke dag vir die volgende drie weke in die metro te wees.