Hartspassie dryf Baaise jong sjef tot in Indië

2020-01-15 06:01
Soos enige sjef wat sy sout werd is, maak Egon le Roux van Port Elizabeth eers sy mes skerp voordat hy met die voorbereiding van sy kos begin. Le Roux sal einde Januarie Suid-Afrika by die Young Chef Olympiad-kompetisie in Indië verteenwoordig.                 Foto: Lulama Zenzile

Soos enige sjef wat sy sout werd is, maak Egon le Roux van Port Elizabeth eers sy mes skerp voordat hy met die voorbereiding van sy kos begin. Le Roux sal einde Januarie Suid-Afrika by die Young Chef Olympiad-kompetisie in Indië verteenwoordig. Foto: Lulama Zenzile

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

MET ’n skerp mes en ’n hartspassie vir kosmaak, het ’n jong man vanuit die hartjie van die bendegeteisterde gebied in Port Elizabeth ’n loopbaan as ’n sjef begin.

Dié passie het vir Egon le Roux (19) ook ’n plek in die Young Chef Olympiad-kompetisie verseker, waar hy Suid-Afrika eersdaags sal verteenwoordig terwyl hy teen minstens 60 ander lande se sjefs in Indië sal meeding.

Hier sal hy soos wat op menigte kosmaak-kompetisie-programme gesien word, ’n lys van bestanddele kry om binne ’n beperkte tyd met die beste gereg vorendag te kom.

Hy meen om ’n sjef te wees is nie noodwendig soos wat die televisiereekse dit laat voorkom nie.

“Op televisie lyk die beroep baie glamorous, terwyl dit lang ure, baie druk en harde werk is,” sê Le Roux.

Die lus om agter die kospotte in te spring het wel begin toe hy op 12-jarige ouderdom na kosmaakreekse op televisie begin kyk het.

Deesdae kyk hy net na kosprogramme waar hy ’n nuwe tegniek of resep kan leer.

Dié inwoner van Neave Park in Bethelsdorp, ’n gebied waar bendegeweld seëvier, sê hy was heeltemal te besig om aan sy sjefloopbaan en rugbyvaardighede te werk om in die strate met bendes deurmekaar te raak.

“Dit is ook danksy my ouers se waardes en fondament van geloof wat hulle by my gekweek het dat ek nie by die verkeerde goed betrokke geraak het nie.”

Sy ouers en broer was ook sy eerste proefkonyne toe hy sy eerste maaltyd opgedis het.

“Ek kan nie presies onthou wat dit was nie, maar ek is seker dit was nie so lekker soos wat hulle dit laat voorkom het nie.

“Ek onthou tot vandag nog die glimlag op hul gesigte oor my kos. Dit is net daar waar ek besluit het om ’n sjef te word en alles moontlik te doen om dié droom te bewaarheid.”

Hy het in 2018 aan Alexander Road High gematrikuleer waarna hy hom by die skool van die South African Academy of Culinary Arts (SAACA) aangesluit het.

Hoewel hy hier toegang tot die nuutste en beste toerusting in die nywerheid het, was dit met eenvoudige huishoudelike kombuistoerusting waarmee hy sy talente ontdek het.

“Jy het nie spoggerige goed nodig om ’n sjef te wees nie. Natuurlik het ons ’n skerp mes nodig – dit is baie belangrik – en ook passie. Kosmaak moet vanuit die hart kom.”

Intussen begin die senuwees knaag oor sy besoek aan Indië, wat ook sy eerste reis op ’n vliegtuig insluit.

“Ek voel die stres, maar ek sien ook uit na die mense wat ek gaan ontmoet by wie ek kan leer. Net om te kan gaan, is ’n wen vir my.”

Met net enkele weke voordat die kompetisie op 28 Januarie begin, skarrel hy nog om genoeg geld vir sy vliegkaartjie en tyd in Indië in te samel.

Terwyl hy ’n geldinsamelingsveldtog aanlyn begin het, maak hy ook kos by ’n familielid se winkel om vir ’n ekstra inkomste te verkoop.

Donasies vir Le Roux se reis na die kompetisie kan gemaak word by www.gogetfunding.com/help-egon-go-to-the-the-young-chef-olympiad-in-india.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.