DIE rugbygroep van die Hoërskool Framesby is op en van die veld af kliphard aan die werk.
Framesby is besig om voor te berei vir sy deelname aan die Sanix Wêreldjeugtoernooi wat van 28 April tot 5 Mei in Fukuoka, Japan, gespeel word.
Die spelers wat nie meer by ander sporte betrokke is nie, werk reeds aan hul fiksheid, maar daar word ook hard gewerk om geld in te samel om die toer se kostes te dek.
Met die oog om geld in te samel, hou Framesby op 3 Maart ’n Superrugby-aand by die skool.
Die voormalige Springbok wat ook die Cheetahs afgerig het, Naka Drotské, sal die spreker by dié geselligheid wees.
Sportaandenkings sal ook dan opgeveil word.
“Dit gaan ’n aand vir die gesin wees en ’n kaartjie sal aandete insluit,” het die organiseerder, André Gerber, gesê.
Dit kos R150 per persoon en ’n tafelbe-spreking vir agt mense kan ook gedoen word.
Bel Gerber by 079 490 0528 om te bespreek.