Laerskool Setlaarspark stel nuwe hoof aan

2019-02-06 06:01
Die Laerskool Setlaarspark se nuwe skoolhoof, Jerry van Huyssteen. Foto:ANIKA DE BEER

Die Laerskool Setlaarspark se nuwe skoolhoof, Jerry van Huyssteen. Foto:ANIKA DE BEER

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

“EK voel 20 en ek het nog die gees van ’n 20-jarige!” Selfs ná 40 jaar in die onderwys het Jerry van Huyssteen nog lank nie sy passie vir skoolgee verloor nie.

Inteendeel, hy het vanjaar ’n nuwe hoofstuk begin as die Laerskool Setlaarspark in Walmer se nuwe skoolhoof.

As ’n jong man pas uit die weermag het Van Huyssteen sy loopbaan in onderwys by die Laerskool Excelsior begin waar hy vanaf 1981 tot 2006 sy kennis met jong leerders gedeel het.

Hy het daarna by die Laerskool Setlaarspark as departementshoof aangesluit en is in 2013 as adjunkhoof aangestel. Volgens hom is sy nuwe titel die kersie op die koek ná ’n goeie loopbaan.

“Dis nou die hoogste punt wat ek kon bereik. Ek het nog drie jaar om te gaan dan móét ek loop, so om af te sluit as ’n skoolhoof is regtig nou die hoogtepunt van my hele loopbaan. Ek is baie dankbaar daarvoor.

“Ek glo dit was nie in my hande of iemand anders se hande nie, net die Here se hande,” het Van Huyssteen gesê.

Volgens hom hou die nuwe pos hom so besig dat hy op die oomblik nie klasgee nie, maar hy mis dit vreeslik.

“Klasgee was eintlik my passie. Ek het op skool met wiskunde gesukkel, so dit was regtig vir my lekker om die kinders te help. Dis wat my aan die gang gehou het. Ek hou van aktief wees, al lyk dit nie so nie,” het hy geskerts.

En aktief is iets wat hy beslis vanjaar gaan wees. Die skool is besig met drie groot projekte wat hulle graag vanjaar op die been wil kry.

Die eerste projek, wat reeds voltooi is, is die opgeknapte biblioteek. The Bookery van Kaapstad het vir hulle 8 000 boeke gegee wat deur ander skole en instansies geskenk is.

“Ons het ook die biblioteek verander van ’n suiwer biblioteek na ’n mediasentrum. Ons gaan nou 16 rekenaars daar hê. Driekwart van ons kinders het nie internet by die huis nie, so hulle kan nou by die skool kom sit en werk,” het Van Huyssteen gesê.

Die tweede projek is Stimulus Maksima, ’n leesprogram wat ingestel is.

“Ons het met die leesprogram ook 35 rekenaars gekry by Stimulus Maksima. Die program help leerders om lees met begrip te bevorder, sowel as hul spoedlees. Dit is uit-en-uit net voordelig vir ons kinders.”

Die derde projek, een waaroor Van Huyssteen besonder opgewonde is, is die vioollesse wat die wêreldbekende violis, Maria Botha, van Mei af gratis by die skool gaan aanbied vir die gr. R en gr. 1-leerders. Hulle gaan ook privaatlesse aanbied vir belangstellendes.

Van Huyssteen het gesê die musiek by Setlaarspark het bietjie doodgeloop en buiten ’n staalorkes en die koor, bied hulle geen ander musiekklasse aan nie. Volgens hom gaan die Laerskool Setlaarspark nou die enigste skool in Port Elizabeth wees wat viool aanbied.

“Ons is baie opgewonde oor die nuwe projekte hier by die skool, en die ouers is net so opgewonde,” het Cindy Mac Pherson, voorsitter van die beheerliggaam, gesê.

Van Huyssteen, wat sy hele lewe lank in Port Elizabeth woon, beplan om steeds by die skool, veral die sport, betrokke te bly ná sy aftrede.

“Ek het onderwys toe gekom vir die sport. Ek het redelik presteer in sport en het provinsiale krieket en rugby gespeel. Dit het my geïnspireer om ’n onderwyser te word. Dis al hoe ek die bietjie talent wat ek gehad het kon terugploeg.

“Ek sal nog betrokke wil wees by die aktiwiteite en graag hoërskole wil help met hulle eerstespan-rugby- en krieket-afrigting.

“Ek wil ook graag mense wat in verswakte sorg (“frail care”) is en wat nie in die kerk kan kom nie, gaan besoek. Dis waar my hart lê vir die aftrede.

“Dis soos gister dat ek begin skoolgee het. Ek dink nog ek is 20, maar dis al ver in die verlede,” het hy gesê.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.