VIR 17 jaar word Auto Motorcycles se sake nét vanuit die Oos-Kaap bedryf – en met ’n belegging van R40 miljoen wat dié handelaar na die Baai bring, sal hy sy voetspoor versterk.
Só het Greg Harvey, vennoot van Auto Motorcycles, verlede week gesê.
Dié motorfietshandelaar, wat sy hoofkantoor op Queenstown het, beplan om volgende jaar sy Baaise bedrywighede na ’n nuwe tak uit te brei, sê Harvey.
“Ons het reeds die eiendom gekoop langs William Moffett-weg, en hopelik kan ons volgende jaar met bouwerk begin sodra die boumaatskappye vir die nuwe jaar open.”
Die ontwikkeling sal ’n winkelkompleks wees. “Ons sal self drie of vier persele beset, met ’n handelaar, ’n bestuurderopleidingsentrum en ’n onderdelewinkel. Dan wil ons nog winkels, soos ’n koffiewinkel en kleinhandelaars, bybring. Dit sal altesaam 10 tot 15 winkels behels.”
Harvey mik om die sentrum in Maart te open, maar dié doelwit sal nie sonder uitdagings wees nie.
“Ons het die metro se hulp nodig, want die pad wat na die sentrum moet loop, is reeds op planne, maar is nog nie fisies ontwikkel nie. Dié belegging is ’n stewige een, en ons kan ongeveer 100 werksgeleenthede skep, maar die pad sal die moontlikhede verbreed.”
Danny Jordaan, Baaise burgemeester, verwelkom die nuus van die beplande ontwikkeling.
“Die belegging toon vertroue in die metro en sal help om werkloosheid hier te verlig. Ons wil ’n diverse ekonomie skep, maar ook die motorbedryf hier versterk, want vervoer is noodsaaklik vir elke sektor,” sê Jordaan.