‘Weermag nog nie nodig in PE’

2019-08-14 06:01
Bheki Cele, minister van polisie, word Donderdag vergesel deur polisiebeamptes terwyl hy deur die strate van Port Elizabeth se bendegeteisterde gebied stap. Foto: Cara-Lee Dorfling

Bheki Cele, minister van polisie, word Donderdag vergesel deur polisiebeamptes terwyl hy deur die strate van Port Elizabeth se bendegeteisterde gebied stap. Foto: Cara-Lee Dorfling

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

DIE weermag se ingryping word nie in Port Elizabeth se bendegeteisterde gebiede benodig nie, het Bheki Cele, minister van polisie, Donderdagmiddag gesê.

Hy het gereageer op verskeie versoeke tydens sy besoek aan die gemeenskap in Booysenspark, ’n gebied waar bendegeweld seëvier, om soos in Kaapstad ook vir Port Elizabeth se bendestryd hulp in die vorm van soldate te stuur.

Cele sê hy neem kennis van die versoek, maar die ontleding van die situasie op grondvlak wat hy het, dui nie op die onmiddellike noodsaaklikheid vir die weermag se ingryping nie.

Christian Martin, ’n kampvegter teen bendegeweld en vir die regte van inwoners in Port Elizabeth se noordelike voorstede, sê egter die ontplooiing van die weermag is lankal reeds nodig.

Volgens hom het bendemisdaad in Port Elizabeth sedert die begin van 2019 reeds die lewe van 114 mense geëis.

“Bendegeweld is ’n nasionale krisis, daarom is dit nodig om ’n noodtoestand te verklaar,” sê Martin.

Benewens die weermag is spesiale howe vir bendesake, hommeltuie en seinblokkeerders by al die tronke volgens Martin nodig om die situasie hok te slaan.

Cele het Donderdag na die noordelike voorstede van Port Elizabeth teruggekeer nadat hy in Desember die gebied besoek en erken het dat die skietery in dié bendegeteisterde gebiede ’n probleem is.

Met daardie besoek was Cele van voorneme om ’n teenbende-eenheid, soortgelyk aan die eenheid in Kaapstad, vir die stad se bendegeteisterde gebiede op die been te bring.

Boonop het hy ook ’n bykomende polisiekantoor vir die Bethelsdorp-gebied, wat ’n bevolkingsontploffing ervaar, beloof.

Die polisiekantoor sou binne agt maande sy deure geopen het om die gemeenskap te dien.

Twee weke gelede het ’n gewelddadige betoging uitgebreek toe inwoners van Booysenspark die strate ingevaar het uit protes teen die gebrek aan vordering aan die beloofde polisiekantoor, terwyl inwoners toenemend deur bendegeweld geteister word.

Dit het ’n belofte van Cele gekos om die gebied te besoek voordat die betogers uitmekaargegaan het.

Donderdag het Cele gesê werkers sou Vrydag reeds met die ontbossing van die perseel vir die nuwe polisiekantoor van R11 miljoen in Chatty begin het, maar weens die vakansiedag sal die kontrakteur eers Maandag met die werk begin.

Bouwerk aan die polisiekantoor sal binne ses weke voltooi word, sê lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris.

Na verwagting sal die polisiekantoor amptelik teen Oktober geopen word.

Advertensies vir dié polisiekantoor se poste is ook reeds uitgestuur, sê Ntshinga.

Cele sê die polisie doen weg met die groot polisiekantore en mediumgrootte polisiekantore, in meer gebiede, word eerder gebou.

Hy sê die teenbende-eenheid (wat nog nie amptelik bekend gestel is nie), het sedert die nuwe boekjaar reeds 37 mense vir bendeverwante misdaad aangekeer.

“Sedert Januarie vanjaar was daar 19 mense wat (in verband met bendegeweld) tronk toe gestuur is vir ’n baie lang tyd, (gesamentlik) meer as 200 jaar. Twee van hulle dien vonnisse van lewenslank uit.

“Ja, misdaad is steeds hoog, maar ons glo die maatreëls wat ons ingestel het, sal ons vorentoe neem.

“So ja, daar is ’n vordering teen bendegeweld. Ons glo sodra die eenheid permanent hier is, sal hulle selfs nog meer sukses behaal,” sê Cele.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.