STILTETYD
WARRVOOR lewe? ek is ‘n vraag wat mense dikwels vra. Hoekom is ek hier? Het my lewe sin en betekenis? Viktor Frankl, bekende sielkundige en oorlewende van die Nazi konsentrasiekamp Auschwitz, skryf as volg: “Jy kan iemand stroop van alles behalwe een ding, en dit is hoe jy reageer in en op bepaalde omstandighede; hulle wat ‘n hoekom het om voor te leef kan byna enige situasie hanteer.” Frankl het ook gesê dat mense ge-noeg het om van te lewe, maar te min om voor te leef.
Dit bring ons by die vraag wat aan ons lewens sin en betekenis gee. Baie mense leef met die leuse: “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.” Gelowige mense, Christene, leef nie net vir die hier en die nou nie. Nee, ons hoop is toekomshoop. Dit is in God veranker. Dit is Hy wat ons belowe dat daar ‘n nuwe hemel en aarde op God se kinders wag. Gelowige mense leef met die wete dat God doen wat Hy sê. God het eeue gelede aan gelowiges se geestelike voorouer, Abraham, belowe dat daar vir hom ‘n nakomeling, ‘n nageslag sou wees in wie die aarde geseën sou word.
Dit was ‘n verwysing na Isak, maar ‘n uiteindelike heenwysing na Christus, in wie die hele wêreld geseën sal word. In Christus het God ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Christene het, soos Adrio König êrens geskrywe het, ‘n gevulde toekoms. Hulle deel in die nuwe geskiedenis wat God in Christus vir die mensdom moontlik gemaak het.
Ons sinlose en betekenislose lewens vind in Christus sin. Gelowige mense se toekoms is so helder soos die beloftes van God, skryf A. Judson. Paulus, die bekende apostel, skryf eenkeer uit die tronk: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Christus is ons hoop. Leef daarom vandag met hoop, want jy het ‘n gevulde toekoms.