Wouter se Watergat

2018-10-25 06:02

Slegte nuus vir ons sake-ondernemings hier aan die kus is dat die skoolvakansie vanjaar baie korter is as gewoonlik. Die verduideliking waarom verstaan ek nie mooi nie, maar ons hoop die gevolge gaan my bankbestuurder nie te veel ontstel nie.

‘n Ander faktor wat die Watergat deesdae meer in ag moet neem as vantevore, is dat die ander watergate prysgewys baie mededingend geword het, en ook die gehalte van hul disse verbeter het.

Dit plaas ekstra druk op vroulief en die kombuispersoneel, maar gelukkig het sy resepte wat oor die jare klante gelok het en nog steeds komplimente kry.

Haar beesstertbredie is die beste wat ek nog in my lewe geëet het, en Sondagmiddae is die 30 porsies binne ‘n halfuur uitverkoop. Die enigste probleem nou is die hoë vleispryse wat die winsgrens baie klein maak. Ons sal binnekort moet besluit op ‘n prysverhoging, of die dis van die Sondagpyskaart af verwyder.

Oom Pottie is ook met verlof en kuier by sy dogter in Germiston, ( hy weier om te praat van Ekurhuleni ).

Hy het laat weet die Toyota se een voorband het gebars onderweg soontoe, maar gelukkig het hy stadig gery. Hy kon dus gemaklik stilhou en die spaarwiel aansit. G’n wonder die band het die gees gegee nie.

Dis nog een van die oorspronklike bande, die spaarband wat in die motor was toe hy hom in 1984 gekoop het, want hy ry die motor so min. Pottie het Saterdag spesiaal gebel om aan almal wat belangstel te sê die Sharks moet hulle maar voorberei vir ‘n nederlaag Saterdag. Nodeloos om te verklaar het ek net gesnork en hom ‘n kas bier gewed dat daar geen kans op so-iets is nie. Indien die Sharks wel verloor, sal dit wees omdat hulle die wedstryd weggegooi het, en nie omdat die Lions die beter span was nie.

Die Lions het net nie die skrum om die Sharks te troef nie. Hoop nie ek moet my woorde volgende week sluk nie.

Die onderwerpe van bespreking die afgelope week was maar weer die gemors waarin die land hom bevind, en die skok-onthullings die een na die ander oor hoe politici an amptenare die afgelope jare geld gesteel het.

Heel tereg was die mening dat Cyril Ramaphosa die enigste man is wat op die oomblik iets aan die saak kan doen, en dat hy almal se steun nodig het, nie noodwendig as ANC-politikus nie, om die saak reg te ruk.

As dit egter genoem word, maak nie saak wie op die oomblik in die Watergat is nie, kom die teen-argument onmiddellik van iemand dat hy sy uitsprake oor grond-onteiening moet temper, en word die kernvraag gevra: Waar was hy die afgelope paar jaar as Adjunk-president. Hoe kon hy so blind gewees het vir wat om hom aangaan? Is hy nie by implikasie aandadig aan die gemors nie?

Ons loopstorie kom van Lilly Pansegrouw van Hibberdene: Gatiep verskyn in die hof. Landdros: “Gatiep, wat het jy gesteel?” Gatiep: “‘n Wekkertjie” Landdros: “‘n Wekkertjie!?” Gatiep: “Ja, ‘n wekkertjie” Landdros: “Wat is die waarde van die wekkertjie wat jy gesteel het?” Gatiep: ”So R 16 000.00? Landdros: “Genade Gatiep, wat se wekkertjie is so baie werd?” Gatiep; “‘n Kragopwekkertjie!”

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.