’n Groot groep matrieks het verlede week hul uitstekende uitslae by die Hoërskool Brandwag gevier.
Die klas van 2017 het altesaam 169 A-simbole opgelewer en elf leerders het gemiddelde A’s behaal. Uit die top elf het twee leerders, Lauren Hayward en Ilze van der Merwe, elk 6 A’s en Anneli Zietsman en Inge Fourie, het elk 5 A’s. Die ander top presteerders het elk 4 A’s. Hulle is Chanté Swanepoel, Charmy de Ridder, Amy Petrus, Adré Swart, Kayla Delport, Alicia de Lange en Shené Barnard.
Lauren Hayward is Brandwag se algehele toppresteerder met ’n gemiddeld van 86,42% en beplan om vanjaar rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.
Altesaam 63% van die matrieks het met toelating tot graadstudie geslaag. Die slaagsyfer is 98,9% teenoor verlede jaar se 100%.
As Afrikaanse skool is Brandwag besonder trots op die 2017-matrieks se punte vir Engels. Die 2017-matriekklas het 19 A’s vir Engels eerste addisionele taal en 2 A’s vir Engels huistaal behaal, vir ’n totaal van 21 A’s vir Engels. Dus het sowat 12% van die matrieks onderskeidings vir Engels behaal.
Die 2017-klas het ook, onder meer, 6 A’s vir wiskunde, 8 vir wiskundige geletterdheid, 13 A’s vir geskiedenis, 8 vir toerisme, 5 vir rekenaartoepassingstegnologie en 6 elk vir lewenswetenskap en rekeningkunde behaal.