Duisende skape landuit ondanks besware

2019-10-10 06:00

Ondanks groot druk oor die “skip van die dood”, het 60 000 skape toe wel uit Suid-Afrikaanse waters na die Midde-Ooste gevaar op pad na hul dood.

Die Al-Shuwaikh, wat tot verlede Vrydag in Oos-Londen se hawe vasgemeer was, was nie geskik om dié hoeveelheid vee te vervoer nie.

Die skip, wat aanvanklik nie ’n permit gehad het nie, is deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) geïnspekteer soos deur die regering vereis.

Dit het geblyk die skape is onder haglike omstandighede aangehou. Daar was skape met ooginfeksie, ander was mank en een met ’n gebreekte been moes uitgesit word.

Die NDBV het toe sowat 27 ure aaneen gewerk om seker te maak die skape word mooi hanteer tydens die oplaaiproses, het Meg Wilson, woordvoerder van die NDBV, gesê.

Sy sê hulle het ook bewysstukke ingesamel om ’n saak mee te bou, om te verseker dat so ’n geval nooit weer in Suid-Afrika plaasvind nie.

Die laai van die merino’s op die Al-Shuwaikh het verlede week geskied nadat die uitvoerpermit van Al Mawasji, ’n Koeweitse invoerder aan wie die skip behoort, goedgekeur is.

Volgens die NDBV is die skape se voorland ’n “onmenslike slagting”.

“Ons het by die hawe gestaan ná afloop van die finale inspeksie. Die atmosfeer en die gevoel van hartseer was oorweldigend. Ons het almal geweet wat dit gaan beteken vir die skape aan boord.

“Nietemin gaan die bewyse wat ingesamel is miljoene diere beskerm en keer dat hulle in die toekoms op die doodskepe gelaai word,” sê Wilson.

Volgens die NDBV het twee veeartse van die provinsiale regering ondersoek op die skip ingestel en het hulle ná afloop van die inspeksie bevind alles is in orde.

Terwyl die skape by die hawe in Oos- Londen opgelaai is, het die NDBV die hulp van dr. Shawn Morris, ’n opgeleide veearts en voerkraal-kenner, ingeroep, om deel uit te maak van die inspeksie aan boord die skip. Sy mening was dat die departement van landbou se gebrek aan kommer, asook hul afwesigheid tydens die oplaai van die skape, kommerwekkend is.

Hy het die uitvoer van die skape as ’n “ramp” beskryf.

Die NDBV is van voornemens om ’n klag in te dien teen die Suid-Afrikaanse regering, ingevolge art. 71 van die Dierebe-skermingswet van 1962.

Hulle gaan ook klagte indien van dieremishandeling, die aanranding van die NDBV se werkers wat na bewering aangerand is en gekeer is om hul werk te doen, teen die personeel wat die diere op ’n onmenslike wyse hanteer het, en teen Mawashi, wat ’n maatskappy in Suid-Afrika geregistreer het.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.