Ellen Pakkies kom praat oor dwelmverslawing

2019-09-12 06:01
Vroue op Uitenhage staan saam om ’n nasorgsentrum vir dwelmverslaafdes te begin. Sylvia Rosseaw (links) en Delorees Gouws is van die Elyashib-ondersteuningsgroep wat ’n spogtee met Ellen Pakkies en Magda Kleyn as sprekers gaan aanbied.     Foto:HEILIE COMBRINCK

Vroue op Uitenhage staan saam om ’n nasorgsentrum vir dwelmverslaafdes te begin. Sylvia Rosseaw (links) en Delorees Gouws is van die Elyashib-ondersteuningsgroep wat ’n spogtee met Ellen Pakkies en Magda Kleyn as sprekers gaan aanbied. Foto:HEILIE COMBRINCK

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

AS die “Ellen Pakkies-ding” deur ’n ma se kop begin draai omdat haar kind in die greep van dwelms in ’n monster ontaard, is dit ’n hulpkreet wat gehoor moet word.

Moeders van Uitenhage, wie se kinders vasgevang is in die hel van dwelmverslawing, het besluit die verskrikking en hopeloosheid is nou genoeg - daar moet aksie kom. Dit het tot gevolg gehad dat die Elyashib-ondersteuningsgroep vroeëer vanjaar gestig is.

Sylvia Rosseaw weet hoe dit is as die “Ellen Pakkies-ding” in jou gedagtes begin draai. Sy is die stigterslid en voorsitter van Elyashib. Saam met Delorees Gouws, sekretaris van die groep, is hulle besig om ’n spogtee te reël waar twee formidabele sprekers oor kinders se dwelmverslawing gaan praat. Dié sprekers is Ellen Pakkies en Magda Kleyn.

Nasorgsentrum dringend nodig op U’hage

“Hier is ’n toenemende en dringende nood om ’n nasorgsentrum vir gerehabiliteerde dwelmverslaafdes op Uitenhage te begin. Nie net vir nasorg nie, maar ook om voorkomende programme aan te bied,” sê Sylvia.

“Die behoefte na só ’n sentrum word al groter. Want na die wettiging van dagga is daar ’n skerp toename aan kinders wat dwelmverslaafdes is. Dagga en Hubbly Bubbly (waterpype) is waar dit begin. Daarna kom die sterker goed soos tik en al die ander dwelms.”

Volgens Delorees is die sentrum dringend nodig om ondersteuning te bied vir gerehabiliteerdes wat terugkeer na hulle huise, sowel as vir die familie van die verslaafde.

“Onthou, ’n gerehabiliteerde keer terug na dieselfde omgewing en omstandighede waarbinne hulle verslaafdes geword het. Op die oomblik is daar op Uitenhage geen nasorg nie. ’n Sentrum waar aktuele programme aangebied word en wat voortdurend berading bied, is broodnodig in ons gemeenskap,” sê Delorees.

Die spogtee dien as ’n fondsinsameling om so ’n nasorgsentrum op Uitenhage te begin.

Volgens Sylvia is dit ’n verkeerde persepsie om werkloosheid te blameer vir die toename in dwelmverslaafdes.

“Al hoe meer kinders op laerskool begin dwelms gebruik - hulle is nie werkloos nie. Die teendeel is eerder waar dat dwelms werkloosheid veroorsaak,” sê Sylvia.

Ellen Pakkies en Magda Kleyn se lewensdramas

Ellen Pakkies se lewensdrama het internasionaal opslae gemaak toe sy op ’n dag in September, twaalf jaar gelede, geknak het oor haar dwelmverslaafde seun Adam se vernederings, leuens, aanrandings en diefstal en hom doodgemaak het. Sy het hom verwurg.

Hiervoor het Ellen Pakkies ’n opgeskorte vonnis van drie jaar gekry en 280 uur se gemeenskapsdiens.

Magda Kleyn, ’n oudverpleegster en stigter van die Tehillah-sentrum in Elsiesrivier, Kaapstad, was ook ’n slagoffer van geweld, mishandeling en die vernederende behandeling van ’n dwelmverslaafde kind.

In ’n Kuier-onderhoud het Kleyn gesê, “Daar word nêrens ’n probleemkind gebore nie. Stukkende huise maak kinders ook stukkend.

“Ek sê altyd vir vroue, gaan soek hulp en vra om hulp by die Here. Daar’s tye wat jy vir jouself die skuld gee. As jy uitvind dit werk nie, wees liewer ’n enkelouer en voorbeeldig, as twee ouers wat baklei. Want jy doen meer skade aan die kinders.”

Spogtee

Die spogtee met Ellen Pakkies en Magda Kleyn word op Saterdag, 5 Oktober om 14:00 by Allanridge-gemeenskapsaal gehou. ’n Musiekgroep, Instruments of Praise sal ook optree. ’n Kerkdiens word op Sondag, 6 Oktober om 09:00 in die Allanridge-gemeenskapsaal gehou met Magda Kleyn as prediker.

  • Kaartjies is R100 per persoon en sluit verversings in. Vir meer inligting of kaartjies bel Delorees Gouws by 078 831 0957 of Sylvia Rosseaw 084 503 3594.
NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.