As kind het sy donkie gery skool toe, en soms sommer weggehardloop as sy vir straf moes agterbly. Maria Ferreira onthou dié dae met ’n onnutsige glimlag terwyl sy omring word deur familie, vriende en personeel van die ACVV Valleihof-tehuis hier.
Ferreira se 100ste verjaardag is op 23 Maart met twee spesiale koeke, dosyne rose en sang gevier - ’n mylpaal waarvoor sy sê daar geen geheim is nie.
“Jy moet besig bly. Ek glo dit is nét die krag van die Here, my verstand makeer niks.”
Hoewel sy sukkel om te hoor, skort niks met haar geheue nie. Veral oor haar skooldae in Steytlerville toe sy as ’n nooi Deyzel saam met haar ses broers en suster ’n plaasskool bygewoon het.
“Die skool was baie ver, ons het soms met donkies gery, maar as die donkies nie daar was nie, moes ons loop. Soms was ons dan laat vir klas en dan moes ons laat agterbly, en soms as ons moes agterbly, het ons net weggehardloop,” het sy laggend vertel.
Sy is in 1916 in Steytlerville op die plaas Wolwekraal gebore. Van haar sibbe is nog net Hennie Deyzel (95) oor wat steeds op Wolwekraal boer.
Ferreira het vier kinders, 13 kleinkinders, 30 agterkleinkinders en tien agter-agterkleinkinders. Twee kleinkinders en ’n agterkleinkind is intussen oorlede.
“Vir my ma se ouderdom is sy baie gesond, sy loop nog op haar eie en haar geheue is nog mooi,” het haar seun Hennie Botha (68) gesê.
Ferreira, wat vir die tweede keer ’n weduwee geword het in 1993, het agt maande gelede na die Valleihof-tehuis verhuis ná 20 jaar in die Wes-Kaap.
Die klein tehuis bied woonplek aan 77 inwoners waarvan Ferreira nou die oudste is.