Jumartha Majola (84) van New Brighton se oë vonkel ondeund as Ray Weiss (76) vertel van die 11 skeepsvraghouers wat hy vir ’n opheffingsprojek by Jo Slovo-Kabah in Uitenhage gebruik.
“Hy kan maar aan ons een gee,” brom Majola, stigter van die Hoza Golden Age-klub, onderlangs op ’n mediakonferensie Maandag-oggend.
“Jy sal jou wat verbeel. Ek kom laai jou twee vraghouers vir my op,” terg Weiss terug. Die luim is gemoedelik tussen Weiss, Majola en ander voormalige wenners van die Senior Burger van die Jaar (Scoty)-toekennings. Hulle is almal byeen in die GFI-kunsgalery in Sentraal, Port Elizabeth, om voorbrand te maak vir vanjaar se kompetisie.
Celeste van der Walt, ook ’n voormalige wenner, is op die reëlingskomitee vir vanjaar se kompetisie.
“Mense leef al hoe langer ná aftrede en hoe langer ’n mens aktief bly, hoe minder van ’n maatskaplik-ekonomiese las is jy. Dié toekennings gee erkenning aan mense wat hul kennis terugploeg en waarde toevoeg tot die gemeenskap.”
Marietjie van der Walt van Uitenhage was in 2015 die algehele wenner. Haar betrokkenheid by die gemeenskap het in Addo begin toe sy opgemerk het hoe sitrusplukkers se kinders ronddwaal. As opgeleide onderwyseres was die oplossing voor die hand liggend – ’n kleuterskool vir al die kleintjies. Marietjie se ywer om ’n verskil te maak het ook haar omgewing en veral die besoedelde Swartkopsrivier ingesluit. Daaruit is skoonmaakaksies saam met die VLV en DA gebore.
Die toekenning was vir haar ’n aansporing om aan te hou met van die projekte en sy hoop dat dit ander pensioentrekkers sal aanspoor om betrokke te raak.
“ ’n Mens hoef nie iets te gaan soek om betrokke te raak nie; raak betrokke by dit wat oor jou pad kom,” is Marietjie se raad.
Majola, wat in 2012 ’n wenner was, het ook ’n string ander toekennings vir haar gemeenskapswerk gewen.
Celeste beaam dit en sê dit is juis daarom dat die Scoty-toekennings so uitsonderlik is. “Die toekenning is ’n aansporing en erkenning dat dit wat jy doen, betekenisvol is.”
- Benoemings vir die Scoty-toekennings sluit op 15 Augustus en die wenners word op 1 Oktober, die internasionale dag vir bejaardes, bekend gemaak. Inskryfvorms is beskikbaar by Juanita Krauspe: jkrauspe@bllsa.co.za of 041 503 4400 of 083 263 3200.