Vier mans wat glo deel is van die groep wat besighede regoor die metro se kluise met ’n hoekslyper oopgesny en die inhoud gebuit het, is vasgetrek.
Minstens 50 besighede in Port Elizabeth en Uitenhage is die afgelope jaar deur die “hoekslyperbende”, wat ook weet hoe om alarms te deaktiveer, geteiken.
Maar Maandaggoggend vroeg het die groep hul Moses teëgekom toe die alarm van ’n besigheid in Kensington hulle tog by Atlas-sekuriteit verklik het.
“Die alarm het kort voor middernag (Sondagaand) afgegaan. Binne minute het ons vier motors op die toneel gehad,” sê Monty Montgomery, bedryfsbestuurder van Atlas.
Vinnig is vasgestel dat minstens sewe mense op die besigheid se dak rondhardloop. In die gebou self is net ’n hoekslyper en en- kele snylemme voor die kluis op die vloer aangetref.
Die polisie, wat ook dadelik uit is na die toneel, het ’n wit Tazz-motor in die gebied voorgekeer en vier insittendes vir ondervraging na die misdaadtoneel geneem.
“Die kringtelevisiebeeldmateriaal van die besigheid het duidelik die gesigte van twee van die vier mense in die motor uitgewys, ” sê Montgomery.
Blykbaar het die twee wat op die beeld- materiaal uitgeken is, met ’n hoekslyper in die hand die besigheid se voordeur oopgesny en ingeloop.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die twee verdagtes in hegtenis geneem is.
Sy het ook gesê die polisie het nóg twee verdagtes in dieselfde motor vir vermoedelik gesteelde goedere aangekeer. ’n Hoekslyper, skroewedraaier en ander “huisbraak-gereedskap” is in die twee verdagtes se besit gekry.
Janse van Rensburg kon nog nie bevestig of dié twee verdagtes ook deel van die hoekslyperbende is nie.
“Die polisie se ondersoek moet nog gedoen word.”
Montgomery het weer reguit gesê hy glo die inhegtenisneming van die vier verdagtes is ’n “deurbraak” ten opsigte van die hoekslyperboewe, en hy hoop die polisie sal die res van die groep met goeie ondersoekwerk kan aankeer.