Bullet en Banshi, twee van die Addo-olifant Nasionale Park se opgeleide patrolliehonde, het ’n onwettige jagter in die park vasgetrek.
Die twee honde het die naweek hul rondes saam met veldwagters in die park se hoofkamp gedoen toe hulle die onwettige jagter – sonder ’n groot geblaf – die skrik op die lyf gejaag het.
“Toe die jagter die honde gewaar, het hy onmiddellik sy geweer gelos en homself oorgegee, sonder dat die twee eens nodig gehad het om ’n lawaai te maak,” vertel John Adendorff, die park se bewaringshoof.
Die verdagte, wie se naam in dié stadium nie genoem mag word nie, is glo ’n “ou hand” en bekend in die Addo-omgewing. Dis egter toevallig dat hy só vasgetrek is, het Adendorff gesê.
Hy glo dat opgeleide honde in parke dwarsoor die land ’n groot aanwins is.
Bullet en Banshi – een ’n snuffelhond en die ander ’n spoorsnyer – is deur die trust vir bedreigde spesies na Addo gestuur.
Die een spesialiseer onder meer in die uitsnuffel van geweerpatrone en die ander in renosterhoring.
“Hulle was nie op die spoor van renosterstropers nie – die veldwagters en die honde het bloot strikke gesoek – maar dit het een minder onwettige jagter tot gevolg gehad.
“Hopelik is dit ’n les vir enige ander jagter wat onwettig die park wil indring,” het Adendorff opgemerk.