Sedert die begin van die nuwe skooljaar was daar nog nie ’n skooldag wat die watertoevoer na die Despatch Primêre Skool normaal was nie.
Leerlinge by die skool wat op die kruin van Reservoir Hills in geleë is, word vroeg huis toe gestuur wanneer die watertoevoer opdroog en toilette nie kan spoel nie.
Mali Mtima, woordvoerder van die onderwysdepartement, het gesê dié situasie is ’n groot bekommernis vir die departement en hy het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om die probleem so gou as moontlik op te los.
Die skoolhoof, Danny Jacobs sê, “Dit raak ’n gesondheidsrisiko wanneer die toilette nie kan spoel nie, daarom moet ons die leerlinge huistoe stuur.”
Hy sê verlede jaar het leerlinge altesaam 51 skooldae gemis en hulle moes vanjaar al drie keer huis toe gestuur word.
“Op ons eerste dag terug by die skool was daar nie water nie. Daar was nog nie een dag van normale watertoevoer by die skool nie,” sê Davene de Vos, departementshoof by die skool.
Die skool het in 2017 ’n slaagsyfer van 88% gehad, maar De Vos meen dit kon veel beter gewees het as daar nie bykans ’n hele kwartaal van skool gemis is nie.
“ ’n Kwartaal is sowat 48 dae lank. Ons het ’n kurrikulum waardeur ons moet werk en dit is moeilik wanneer skool gemis word.”
Leerlinge vanuit ander woonbuurte en onderwysers is gevra om water skool toe te bring, om minstens water aan die skool se voedingskema te bied wat die leerlinge van kos voorsien.
“Maar nou is water ’n nasionale krisis. Mense kan nie meer net water tap en skool toe bring nie,” sê Jacobs verder.
Vervolg na bl.2