’n Standbeeld van oudpres. Nelson Mandela is Dinsdag onthul en gaan in die volgende 67 dae op verskeie plekke in die Nelson Mandelabaai-metro te sien wees.
Die onthulling was deel van die metro se 67 minuut lange Mandeladag-vieringe by die Nelson Mandelabaai-stadion.
Die metro se inwoners word aangemoedig om ’n selfie by die standbeeld te neem en dit in sosiale media te deel.
Luvuyo Bangazi, ’n woordvoerder van die Madibabaai-ontwikkelingsagentskap (MBDA), sê kunsstudente aan die Nelson Mandela-Universiteit het die standbeeld geskep in opdrag van die MBDA as deel van die Route 67-kunsprogram.
Bangazi sê die werk wat deur die studente onderneem is, is ’n kombinasie van drie standbeelde wat Conversations with the Queen genoem word. Die drie standbeelde is van Govan Mbeki, Raymond Mhlaba en Mandela.
Die standbeeld sal vir die eerste tien dae by die Nelson Mandelabaai-stadion te sien wees.
Athol Trollip, burgemeester, het by dié geleentheid erkenning gegee aan plaaslike helde, onder wie suster Ethel Normoyle van die Missionvale-sorgsentrum, vir hul bydrae tot die opheffing van die gemeenskap.
“Ons gee erkenning aan hierdie helde en heldinne om hul onbaatsugtigheid te vier en hulle vir hul werk te eer.
“Hulle word gedryf deur nederigheid en die noodsaak om diegene wat minderbevoorreg is op te hef.
“En as die stad wat die naam van een van die wêreld se mees gevierde politieke ikone dra, moet ons ons dank uitspreek teenoor hulle wat deurgaans oor grense heen probeer om van die metro ’n buitengewone en beter plek te maak om in te woon,” het Trollip gesê.
Sibongile Dimbaza, die burgemeester se woordvoerder, sê die hutsmerke #Madibavalues, #Ourbayourvision en #Ourbayourlegacy kan by die inwoners se foto’s in sosiale media gebruik word.
- Die standbeeld sal binnekort ook ’n draai op Uitenhage maak waar dit op die dorpsplein te sien sal wees.