Meisie sien uit na matriekafskeid terwyl sy op longe wag

2019-10-03 06:00
Craig Radue en sy dogter Larisca.                      Foto: Verskaf

Craig Radue en sy dogter Larisca. Foto: Verskaf

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

’n LONGOORPLANTING wat die lewe van ’n tienermeisie onherroeplik kan verander, is voorlopig opsygeskuif terwyl sy vir haar matriekafskeid gereed maak.

Volgens Craig Radue sien sy dogter Larisca (19) al haar hele hoërskoolloopbaan uit na haar matriekafskeid aan die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar in Uitenhage.

“My dogter kan nie soos ander tieners, saam met haar vriende na winkelsentrums of partytjies gaan nie, haar toestand laat dit nie toe nie. Die matriekafskeid is een geselligheid waarvoor sy nie gaan terugstaan nie.”

Juis daarom het hy seker gemaak dat sy dogter se dubbele longoorplanting met minstens ’n week uitgestel word sodat sy môre haar matriekafskeidrok kan aantrek en saam met haar skoolmaats matriekafskeid kan hou.

Hoewel die rok gereed is en ’n spesiale motor deur Volkswagen vir die aand geborg word, hang dié belangrike aand in die weegskaal.

Larisca is verlede week in die waakeenheid van die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth nadat sy weens asemnood opgeneem is.

“Die kleinste infeksie veroorsaak dat sy in die hospitaal beland. Gewoonlik duur die behandeling 14 dae, wat beteken sy sal nie betyds ontslaan word nie. Maar ons het ’n wonderlike dokter. Ons gaan probeer om ’n plan te maak sodat sy minstens vir die aand ontslaan word.”

Sistiese fibrose is in 2010 by Larisca gediagnoseer. In daardie stadium is sy elke ses maande hospitaal toe vir ’n ondersoek. Deesdae gaan daar nie ’n maand verby dat sy nie minstens ’n week in die hospitaal deurbring nie.

Volgens Radue is hy en sy vrou, Lia, albei draers van die siekte. Lia het sowat drie jaar gelede haar stryd teen borskanker verloor.

“Een uit elke 250 000 getroude pare is albei draers hiervan. Gewoonlik beteken dit sistiese fibrose sal by een van die kinders gediagnoseer word. In ons geval is dit by twee van ons drie kinders gediagnoseer.”

Brendan (22), Larisca se ouer broer, sal ook in die toekoms ’n longoorplanting moet kry, sê Radue.

Maar anders as Brendan is Larisca se longoorplanting lewensbelangrik, aangesien sy slegs 20% kapasiteit in haar linkerlong oor het en bykans geen kapasiteit in haar regterlong nie.

“Sy is nie permanent op suurstof nie en ek hoop dit gebeur nooit. Daarom is dit belangrik dat sy nou vir die oorplanting gaan.”

Radue sê die operasie beteken wel sy dogter sal nie haar matriekeksamen kan skryf nie, maar hy glo die opoffering is die moeite werd.

’n Week ná die matriekafskeid sal Larisca en haar pa na Kaapstad vlieg waar sy in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem sal word. Larisca, wat net 38 kg weeg, sal hier bykans twee weke lank voeding ontvang om haar liggaam te versterk.

“Ons kan ’n dag, twee dae of selfs ’n paar weke wag, maar wanneer sy daar uitkom, sal my dogter ’n nuwe lewe hê. Ek gaan haar op ’n nuwe manier leer ken en sy sal vryheid hê. Sy is natuurlik ’n bietjie senuagtig oor die operasie, maar die vooruitsig oorskadu die angs.”

Radue sê hy is hartseer dat hy nie vir die duur van die operasie by sy dogter kan bly nie, aangesien hy tuis benodig word om om te sien na sy jonger dogter en onderneming waar hy herstelwerk aan elektroniese toerusting doen.

“Daar is tye dat die mediese uitgawes ’n uitdaging raak.

“Gelukkig is daar ’n paar mense wat altyd op die een of ander manier help en daarvoor is ons dankbaar.”

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.