Reën en slegte paaie stop nasionale tydren

2019-07-25 06:00

SWAAR reën en die gevolglike slegte toestand van paaie het verlede naweek se gewilde nasionale tydren in die wiele gery en deelnemers moes na dag een halt roep.

Dit is die eerste keer in 37 jaar wat dié Suid-Afrikaanse tydren-kampioenskap in Nelson Mandelabaai aangebied word, dat dit nie voltooi kon word nie.

“Dit was nie omdat die tydren-voertuie nie die paaie sou kon ry nie. Die hoofrede was omdat die noodvoertuie en mediese span nie daardie paaie sou kon ry indien hulle moes reageer vir bystand nie,” sê Rikus Fourie, voorsitter van nasionale tydrenne en die roetebeplanner van die Baywest nasionale tydren.

“So, as die mediese span nie ingestuur kan word nie, is die risiko eenvoudig te groot en dan is dit beter om sneldele af te las.”

Dag een het vyf sneldele gehad, maar slegs vier sneldele se punte kon aangeteken word.

“Teen sneldeel vyf was ons tydtoerusting sopnat en het dit begin probleme gee. Die baanopsieners se papiere was ook so nat dat hulle nie daarop kon skryf nie. Ons het geen keuse gehad as om die punte tot en met snel-deel vier te bereken nie.”

’n Totaal van 39 voertuie het in dié ronde vier van die nasionale tydren weggetrek by Baywest Mall. Onder hulle was twee van HTS Daniel Pienaar se voertuie. Michail Ellis was agter die stuur van DP se VW Polo (S5-klas) met Pierre Bakkes as navigator. Edward McCarthy was agter die stuur van die VW Golf 1 (S1-klas) met Martin Kleingeld as navigator. Daniel Pienaar is die enigste skool in Suid-Afrika wat aan motorsport deelneem.

Kleingeld, die hoof van Daniel Pienaar Motorsport sê, “Ons voertuie het goed gedoen. Ons het so bietjie moeilikheid gehad op altwee, maar hulle het beide dag een se sneldele voltooi.”

McCarthy en Kleingeld het algeheel 16de geëindig met Ellis en Bakkes in die 18de posisie. ’n Voormalige DP-leerder, Ashley Bezuidenhout, het ook deelgeneem aan die tydren as navigator vir Nick Davidson in sy VW Polo (S2-klas). Dié span was die algehele wenners van die Baywest nasionale tydren-kampioenskap.

Volgens Fourie is daar ’n reël dat as snel-dele afgestel word weens veiligheid of weer, word die volle punte wel toegeken aan deelnemers ten spyte daarvan dat ’n verkorte afstand gery is.

“Alhoewel die weer ons tydren belemmer het, was die deel wat wel plaasgevind het, ’n groot sukses. Die bemarking en gees onder die deelnemers was absoluut briljant,” sê Fourie.

  • Algoa Rally Club was die gasheer van die Baywest nasionale tydren. Die volgende streeks-tydren wat deur dié klub aangebied word is op Saterdag, 31 Augustus by Wolwefontein.
NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.