Skok, woede oor vandalisering van askissies

2019-09-19 06:00
Die stukkende askissies soos dit nog laat Maandagmiddag voor die oopgebreekte nisse by die Despatch-begraafplaas gelê het.                 Foto: Chris Snyman

Die stukkende askissies soos dit nog laat Maandagmiddag voor die oopgebreekte nisse by die Despatch-begraafplaas gelê het. Foto: Chris Snyman

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

“Dit lyk of iemand gruis voor die muur gegooi het, maar dit is eintlik mense se as wat tussen stukkende askissies lê.”

Só het ’n ontstoke Chris Snyman, inwoner van Despatch, gesê nadat hy Maandagaand dié Oos-Kaapse dorp se begraafplaas besoek en op die ontstellende toneel afgekom het.

“Ek kry hoendervleis net om te dink aan wat ek gesien het en dit laat my wonder hoe lank dit al só lyk.”

Snyman het Maandag omstreeks 18:00 die begraafplaas besoek nadat sy oupa verlede week oor die haglike toestand van die begraafplaas gekla het. Hy was daar om blomme by sy oorlede vrou se askissie te gaan neersit.

“Ek was geskok, om die minste te sê. Hoe kan dit wees dat die mense wat in beheer van die plek is, nie die as en stukkende kiste op die grond voor die muur raakgesien het nie?”

Nadat Snyman foto’s van die gebreekte gedenkstene en stukkende askissies op sosiale media gedeel het, het baie inwoners Dinsdagoggend by die begraafplaas opgedaag om hul geliefdes se as te verwyder.

Een van die inwoners is Emmerentia Smit wat met ’n hamer by die gedenkmuur opgeruk het om haar ma se as te verwyder.

“My hart is verskriklik seer. My ma lê al nege jaar hier sonder enige probleme.

“Gelukkig is daar nie aan haar as gepeuter nie, maar ek kon nie die kans waag om haar daar te los nie.”

Sy bestempel dit as een van die mees emo- sioneel uitdagende goed wat sy nog gedoen het om die nis met ’n hamer oop te kap en haar ma se as te verwyder.

“Dit is seker net as, maar dit is die hele idee dat iemand my ma se as net daar op die grond kan uitgooi wat my laat besluit het om haar te gaan haal en by die huis te hou.”

Francois Greyling, plaaslike wyksraadslid, het Dinsdagoggend ook mense aangemoedig om hul geliefdes se as te verwyder.

“Dié is nie die eerste probleem wat ons met die begraafplaas het nie en mense kan nie langer op die munisipaliteit wag nie, die (Nelson Mandelabaai-metro) se wiel draai net té stadig.”

Greyling het bykans ’n maand gelede reeds aan die munisipaliteit se direktoraat geskryf om antwoorde te eis oor wat gedoen word om die begraafplaas te beveilig.

“Tot vandag het ek nog nie eens ’n erkenning van ontvangs vir my skrywe ontvang nie. Dit terwyl die situasie net erger en erger word.”

Die askissie van Snyman se ouma is ook Dinsdagoggend verwyder, maar hy meen dié oneerbiedige voorval gaan nie ongesiens verbygaan nie.

“Die mense was vanoggend buite hulleself toe hulle na hul familie se as kom soek het.

“My gevoel is dat die munisipale ampte- nare wat vir die plek verantwoordelik is, hul werk hieroor moet verloor.

“Iemand het nie sy werk gedoen nie en ons kan nie langer oor sulke goed stilbly nie.”

Frans Swanepoel, inwoner en voormalige raadslid van die gebied, sê hy is sprakeloos oor die voorval.

Volgens hom is daar sowat 15 askissies wat uit die gedenkmuur se nisse geruk en oopgebreek is.

“Brille, naaldwerkskêre en pamflette is maar van die goedere wat tussen die stukkende askissies rondlê. Dit is waarskynlik goed wat mense saam met hul geliefdes se as in die kissies geplaas het.”

Hy en Greyling vermoed die vandaliste is juis op soek na waardevolle items wat in die askissies gebêre is.

Swanepoel het intussen gereël dat die as wat deur middel van etikette geïdentifiseer is, asook die leesbril en skêre deur Willem Fourie, ’n begrafnisondernemer, na Oos-Kaap Begrafnisdienste in Cuylerstraat in die buurdorp Uitenhage, geneem word.

Volgens kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, is geen saak in verband met die voorval aanhangig gemaak nie, maar die polisie versoek enigeen met inligting hieroor om lt.kol. Flip de Jager by 082 410 7540 te bel.

Swanepoel het ook ’n beloning van R5 000 aangebied vir inligting wat tot die suksesvolle vervolging van die vandaliste agter die vandalisme kan lei. Hy kan gebel word by 083 405 0360.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, sê hy sal later kommentaar lewer.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.