Talle diere op wildplaas gekonfiskeer, verskuif

2019-11-28 06:01
Dr. William Fowlds (regs), ’n wildveearts, en ’n assistent verdoof Maandag ’n jong buffel op die Blaauwbosch-wildplaas.

Dr. William Fowlds (regs), ’n wildveearts, en ’n assistent verdoof Maandag ’n jong buffel op die Blaauwbosch-wildplaas.

Multimedia   ·   User Galleries   ·   News in Pictures Send us your pictures  ·  Send us your stories

WILDE diere wat weens nalatigheid by die Blaauwbosch-wildplaas in die Oos-Kaap gekonfiskeer word, het die weg gebaan om wildplase in ’n soortgelyke situasie vas te vat.

Olifante, buffels, swartwildebeeste en kameelperde is onder die spesies wat sedert verlede week by dié privaat wildplaas tussen Kleinpoort en Wolwefontein gekonfiskeer word nadat die Oos-Kaap se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme ’n lasbrief bekom het om die diere te verwyder.

Dié aansoek is ingedien ná etlike jare van die wildplaaseienaar se beweerde versuiming om die wettige vereistes vir die bestuur van ’n wildplaas na te kom.

“Dit is ’n massiewe deurbraak vir ons. Ek glo dit gaan mense meer bewus maak van wat kan gebeur indien hulle nie hul wildplase reg bestuur nie,” het Dereck Milburn, die internasionale Aspinall-stigting se streekdirekteur vir Suider-Afrika, gesê.

Dié stigting, in samewerking met Chris Holcroft van die Wild 911-bewaringsgroep, befonds die sowat R900 000 vir die hervestigingsoperasie van die wilde diere.

Verlede Donderdag is 11 olifante gekonfiskeer en na die Buffalo Kloof-wildplaas geskuif. Maandag is 18 buffels gevang, verdoof en in vragmotors na die Grootvisrivier-natuurreservaat geskuif. Al die swartwildebeeste en ’n aantal kameelperde sal ook gevang en geskuif word.

Tydens ’n onlangse opname en assessering van die situasie op Blaauwbosch is karkasse van minstens twee olifante, twee renosters en drie kameelperde gevind, wat volgens Milburn tekens van hongersnood getoon het.

Dr. William Fowlds, ’n wildveearts wat na die sorg van die wilde diere omsien gedurende die hervestiging, meen gegewe die swak bestuur van die plaas se infrastruktuur en diere, was hy eintlik verbaas om nie meer karkasse op die wildplaas van 4 000 ha te sien nie.

“Die reservaat het baie jare gelede sy kapasiteit vir die aantal en verskeidenheid van spesies bereik,” het Fowlds gesê.

Die eerste prioriteit van dié operasie is volgens Fowlds om druk op die eiendom te verlig en te red wat nog te redde is.

Volgens Fowlds dui die toestand van paaie, waterpype wat deur die olifante uit die grond geruk is, suipbakke, die vervalle lodge en stukkende pompe dat daar vir ’n klompie jare geen instandhoudingswerk op die wildplaas was nie.

“Dit is ’n totale prentjie van verwaarlosing.”

Sover sy kennis strek, het die wildplaas vir ’n geruime tyd net een waterpunt gehad, met min tot bykans geen voldoende kos vir die aantal wild nie.

Fowlds sê die diere wat wel die situasie oorleef, het op ’n “wonderbaarlike” manier aangepas. Olifante het turksvye geëet, terwyl sebras karoobos eet, iets wat nie natuurlik is nie.

Bewerings oor ’n tekort aan waterbronne is juis wat die wildplaas in September in die kollig geplaas het toe ’n olifantbul twee keer by Blaauwbosch uitgebreek het.

Dié olifant het ’n skietdood vrygespring toe Mount Camdeboo-wildplaas, oos van Graaff-Reinet, aangebied het om ’n permit vir die olifant te bekom en in te neem.

’n Soortgelyke situasie het in 2017 by Blaauwbosch afgespeel, maar dié rondloper-olifantbul is van kant gemaak.

Gedurende ’n ondersoek na die wildplaas het dit aan die lig gekom dat Blaauwbosch se permit vir bedreigde en beskermde spesies (die sogenaamde Tops-permit), asook die permit vir heinings wat voldoen aan regulasies vir gevaarlike wild (die CAE-permit), verstryk het.

Intussen het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Uitenhage en die departement lasbriewe bekom om die diere te konfiskeer.

Die eienaar van die wildplaas, sjeik Khalaf Ahmed Khalaf Al-Otaiba van die Verenigde Arabiese Emirate, het deur Kuban Chetty, sy Suid-Afrikaanse prokureur, probeer om ’n dringende interdikaansoek te bring om dit te keer. Die aansoek is egter verlede Woensdag met koste deur die hooggeregshof in Makhanda van die hand gewys.

Deirdre Swift, voorsitter van die DBV in Uitenhage, het op haar beurt die hervestigingsoperasie ook as ’n sukses vir hulle bestempel.

Sy erken dit was nie ’n maklike pad tot dusver nie, maar sê danksy die ondersteuning van die betrokke stigtings en regspan sou hulle nie dié punt bereik het nie.

Wat die pad vorentoe vir die oorblywende wild by Blaauwbosch inhou, sê Swift die eienaar kan verseker wees dat hulle die situasie steeds streng sal monitor en moontlik eis dat ’n wildbestuursplan opgestel word.

NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 

Matric Results are coming soon!

Notify me when results become available

/News
Traffic Alerts
Traffic
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.