Vir die afgelope 10 jaar is ritmiese gimnastiek-afrigting byna daagliks deel van Shantell Didloff se lewe. Oor dié dekade beleef sy toenemend hoe tegnologie kinders ‘beroof’ van basiese ontwikkeling omdat aktiwiteite soos boomklim en touspring ‘uit die mode’ is.
Didloff, eienaar en instrukteur van iBayi Rhythmic Gymnastics Club, sê ouers besef nie die belangrikheid van speel, as fisieke oefening, vir die ontwikkeling van ’n kind se brein en spiere nie.
“Kinders is toenemend onaktief weens hulle keuse van vermaak. Hulle sit vir ure voor rekenaars of met tablette. ’n Direkte gevolg hiervan is baie lae of swak spiertonus,” sê Didloff.
“Middel- en kruislyn-ontwikkeling en al die koördinasie wat daarmee saamgaan is uiters belangrik vir ’n kind se motoriese ontwikkeling, wat weer nodig is vir die ontwikkeling van kinders se lees-, skryf- en leervaardighede.
“Heelwat kinders sukkel met lae spiertonus en swak spier-koördinasie. Dit is vir my ’n uitdaging om te sien hoe die oefeninge wat ek hulle laat doen, op die end ook ’n verskil maak aan hulle selfbeeld en leerwerk.”
Aspekte soos kinders wat op hulle tone loop, of gereeld hulle tone stamp, wie lomp oorkom, sukkel om trappe te klim, vir wie dit moeilik is om vorentoe te rol of wie se skryfwerk nie volledig is nie, is dikwels tekens van lae of swak spiertonus.
Anna de Lange van Despatch se dogter, Rebekah (5) het onlangs by Didloff begin oefen. “Sy het alles probeer van karate tot hip-hop en was nooit ywerig oor oefen nie, maar sy is mal oor ritmiese gimnastiek. Dit is ’n kombinasie van verskillende oefeninge en my meisiekind geniet dit baie.
“Ek het nooit besef hoe belangrik touspring is nie. Inteendeel ek het nie geweet daar is sekere oefeninge wat kinders op sekere ouderdomme behoort te kan doen nie.”
Ritmiese gimnastiek is ’n kompeterende sportsoort waarin Didloff verskeie medaljes op nasionale vlak gewen het, maar deesdae gaan dit vir haar oor veel meer as die wenmotief. Sy is passievol om kinders opgewonde te kry om aktief te wees en eerder tou te spring as om vasgenael te sit voor die televisie.
Didloff bied ritmiese gimnastiek-klasse aan vir mense tussen die ouderdomme van 2 tot 20 jaar. Sy het klasse op Despatch, Summerstrand en Sunridgepark. Didloff bied ook klasse by Quest skool vir kinders met outisme en beplan om ook by Cape Recife klasse aan te bied. Vir meer inligting bel Shantell Didloff by 084 299 5023 of ibhayigym1@outlook.com