Motorbotsings teen loslopende vee bly ’n dodelike probleem in die Nelson Mandelabaai-gebied.
Tussen 27 Junie en 2 Julie alleen is vyf sulke botsings onderskeidelik op die paaie tussen Rocklands en Uitenhage (2), Despatch en Uitenhage (2) en by Fitchett Corner aangemeld.
Hannes Bekker, groenteboer, glo ‘verkeerde’ wetgewing, naamlik dat grondeienaars self die ‘plakkervee’ van hul grond moet verwyder, tot die probleem bydra.
“Die grondeienaar moet dus eie laaibank en sleepwa aanskaf, die vee aankeer, oplaai en wegry na die skut. Wanneer die bees egter op die pad is, moet die owerhede die vee verwyder – en dít maak dan dat sommige grondeienaars die vee aanjaag pad toe,” sê Bekker
Deidre Swift, voorsitter van die Uitenhage-dierebeskermingsver- eniging, het grondeienaars versoek om eerder die munisipaliteit se vee-beheer eenheid by 079 490 0540 te bel as om ‘plakkervee’ aan te jaag pad toe, want só iets kom ook neer op mishandeling.
In ’n poging om die probleem van loslopende vee in die Uitenhage- distrik op te los, is ’n dringende vergadering in April met die boere, polisie en die langplaas-boere (vee-eienaars wat hul vee aan die gras langs die paaie laat wei) gehou.
“Agt stuks vee is toe ook in daardie tyd geskut. Daar is vir die boere gesê nóg meer vee sal geskut word, en die dit lyk asof die probleem nou klein bietjie kleiner is,” het Bekker gesê.
Ongeveer ’n maand gelede het die polisie gehelp om 77 stuks loslopende vee padlangs na die skut by dierebe-skermingsvereniging op Uitenhage aan te jaag.
- Bekker het die grootste lof vir die polisie. “Hulle baklei saam met die boere vir beter beheer oor loslopende vee.”