Om heuningbye weer te volg

2017-11-08 06:00

n Paar !Xun-lede wat die verstikkende atmosfeer van Platfontein wil ontvlug, beplan om die Kalahari weer hul tuiste te maak. Charné Kemp het die kloppende aarde onder hul voete gevoel.

Die Grootman het hulle na hul heimat gelei. ’n Plekkie duskant rooi Kalahariduine onder ’n kameeldoringgeboomte. Tussen rosyntjiebosse en witgatbome waar die tsamas tussen duwweltjies rank.

’n Klipgooi van Toevlug, en skuins duskant Volop en Houmoed. Die nuwe plek vir die !Xun. Die plek heet !Xun#tse!du in die Khoesantaal. Waar hulle kan bly totdat die heuning opraak.

!Xun#tse!du is op Glen Lyon, ’n wildplaas tussen Griekwastad en Groblershoop.

Dit is wêrelde weg van Platfontein, eenkant van Kimberley, waar !Xun- en Khwe- San-groepe dekades gelede deur die ower- hede in rye Hop-huisies binne ’n grensdraad neergeplak is.

Aardlinge wat dekades gelede die vryheid van Afrika onder hul voete gevoel en onder die naakte uitspansel gedy het.

Die !Xun (Vasekeles) en Khwe (Mbarakwengo) was twee San-groepe wat uit verskillende gebiede in Angola, suid-Zambië en Namibië gekom het.

Hulle was ook as die Flechas (pyle) bekend en is by die politieke en militêre onrus in Suid-Afrika en Namibië betrek vanweë hul uitstekende spoorsnyvernuf en waarnemingsvermoë.

Sowat 50% van diegene wat in diens van die destydse 202/201 bataljon was, het met Namibië se onafhanklikheidwording verkies om na Suid-Afrika te verhuis.

Hulle is by Schmidtsdrift langs die Vaalrivier in tente gevestig, waarna die gesamentlike 31 bataljon-eenheid ontbind is. ’n Suksesvolle grondeis van die Batswana op Schmidtsdrift het die regering gedwing om die plaas Platfontein vir die !Xun en Khwe in ’n dorpsgebied te omskep.

Deesdae oorleef 10 000 siele daar, meestal op staatstoelae.

Boats Botha, ’n regiment-sersant-majoor (RSM) van die destydse bataljon, is steeds by sy oudmakkers betrokke. Hy praat ook die Khoesan-taal.

Saam werk hulle aan ’n toerisme-sakeplan. Sou dit volhoubaar wees, wil enkele gesinne later heeltyds op ’n nabygeleë plaas hervestig word.

Boats het toestemming van Glen Lyon se eienaar om oud-soldate soos Petrus Chnonge en Paulus Tame se toerismeplan werklik te maak.

Hulle wil ’n tradisionele !Xun-blyplek vestig waar toeriste kan oornag en tradisionele gebruike en danse waardeer.

Volgende jaar wil hulle in samewerking met die Witsand-reservaat die eerste toeriste onthaal.

Hulle het onlangs drie grashutte vir ’n oefenlopie gebou. Petrus se seun Marcell leer ook die tradisionele gebruike by sy pa.

Paulus vertel in ’n eiesoortige Afrikaans dat toerisme ’n broodnodige inkomste is.

!Xun#tse!du sal hulle ook sielevrede in die duine van hul eertydse bestaan gee.

“Ons wil weer dans, vuurmaak en onder die sterre slaap. Stories vertel,” sê hy.

“Bedags sal ons likkewane, hase, ystervarke en bokke met pyl en boog jag.”

Hy sit plat op die sand. Tokkel sy tuisgemaakte snaarinstrument. Die wind dra sy stem met die verhaal van die jakkals en die leeu.

Die drie wag vir ongesoute diervelle om volle tradisionele uitrustings te maak.

Hulle moet gedurig waak teen die gebruik van Westerse hulpmiddele soos binddraad in die hutte.

Hulle het ook etlike pyle met metaalpunte vir verskillende prooi soos bokke, kleiner diere en voëls gemaak.

Die gif word aan die skag, wat van buffelriet gemaak is, gesmeer.

Vere aan die agterkant maak die pyl vaartbelyn.

Omdat die pyle hoogstens 20 m ver kan trek, is vernuftige bekruiping noodsaaklik om so na as moontlik aan die prooi te kom.

Paulus is gereed om ’n vuur op tradisionele wyse aan te steek. ’n Lang pyl met ’n punt wat in ’n blokkie sagte hout gesteek is, pas oor ’n gaatjie op ’n houtblok op ’n droë voëlnes.

Die drie mans maak beurte om die stok blitsvinnig van bo na onder tussen die handpalms te draai om wrywing te veroorsaak.

Sjiirr, sjirrr draai die stok tussen vereelte handpalms.

Marcell maak ritmiese kliekklanke om die vlamme aan te moedig.

Vonke val op die voëlnes en kooltjies ontbrand.

Paulus tel die nes versigtig op en koester dit in sy handpalms. Blaas liefderik oor die kooltjies.

Volstruiseiers was nie net voedsaam en as waterhouers gebruik nie, maar nuttig om boodskappe oor te dra.

Petrus hou ’n eierdop vas waarop prente van ’n baie groot volstruis, ’n mens en ’n baie groot skilpad geteken is.

Groot getekende diere wys daar is ’n oorvloed van die betrokke diersoort. Ander tekeninge vertel waar water is en of daar hubare mans en vroue in ander groepe is.

Petrus, ’n tradisionele geneser, beskryf hoe hy rosyntjiebos-, kameeldoring- en witgatboomwortels opkerf en vir vier dae in koue water laat gis voordat hy dit met ’n eier meng om tuberkulose te behandel.

Die mengsel word in snyplekke op die pasiënt se gewrigte gesmeer.

“Dis hoe. Ek kan nie lieg nie.”

Boats knik. Dit is juis die eerlikheid, openheid en mededeelsaamheid van die !Xun wat hy so bewonder.

“Tog het hierdie eienskappe hulle gekelder. Hulle is deur owerhede en weermagte verwesters en met hul pensioenuitbetalings verneuk.”

Op Platfontein met sy alkohol en ander euwels verlei en versaak.

En verbied om die heuningbye te volg.

Join the conversation!

24.com encourages commentary submitted via MyNews24. Contributions of 200 words or more will be considered for publication.

We reserve editorial discretion to decide what will be published.
Read our comments policy for guidelines on contributions.
NEXT ON NEWS24X

Inside News24

 
/News
Traffic Alerts
There are new stories on the homepage. Click here to see them.
 
English
Afrikaans
isiZulu

Hello 

Create Profile

Creating your profile will enable you to submit photos and stories to get published on News24.


Please provide a username for your profile page:

This username must be unique, cannot be edited and will be used in the URL to your profile page across the entire 24.com network.

Settings

Location Settings

News24 allows you to edit the display of certain components based on a location. If you wish to personalise the page based on your preferences, please select a location for each component and click "Submit" in order for the changes to take affect.




Facebook Sign-In

Hi News addict,

Join the News24 Community to be involved in breaking the news.

Log in with Facebook to comment and personalise news, weather and listings.