finweek

Die verlede bestaan in die hede

OP sy inhuldigingsdag op die grasperk voor die Uniegebou in Pretoria het Nelson Mandela in sy gewone versoenende styl 'n gees van vergifnis bepleit.

"Wat verby is, is verby," het hy in Afrikaans aan die skare gesê.

Getrou aan sy waardige dog gemaklike aard het Mandela op die oog af die verwoesting van apartheid laat vaar en intuïtief die angs be-sweer van 'n land wat steeds onstuimig was ná regse ekstremiste se sluipmoord op Chris Hani, vooraanstaande lid van die SA Kommunistiese Party.

Kyk ons na 2008 en dis asof ons terugbeweeg het na die opruiende oomblik ná Hani se moord toe die nasionale psige uit vrees en onsekerheid bestaan het. Krake tussen die rasse het die afgelope dekade tot vyandigheid verhard in 'n kultuur van onverdraagsaamheid en geweld. Grondwetlike vryhede, wat eens die trots van die nuwe SA was, kom in die gedrang.

Die pad na wanhoop gaan verby bakens van hoop, aangevuur deur 'n kollektiewe nostalgie na 'n universele ikoon van versoening en die tyd van reënboë en wonders wat Mandela in sy ampstermyn as SA se eerste demokratiese president gesimboliseer het.

Maar is nostalgie genoeg om die hoop te behou? "Wat het inderdaad van Mandela se nalatenskap geword?" het emeritus aartsbiskop Desmond Tutu vroeër vanjaar heel gepas in 'n BBC-televisieonderhoud gevra.

Deesdae staan Mandela se nalatenskap teenoor die koue feit dat die reënboognasie uitgeput is. Tog is daar 'n sin waarin Mandela se 90ste verjaardag vandeesmaand die hoop weer aanblaas, soos Thabo Mbeki dit in sy aanhaling van die digter Langston Hughes gestel het: "Ons het dit gewaag om te droom." Natuurlik is die punt van Tutu se wanhoop dat die droom onder Mandela se opvolger opsy geskuif is.

Waarna Tutu klaarblyklik probeer reik, is 'n antwoord op die vraag: Kan ons die wonder van rasversoening terugkry? Of is daar vas besluit dat die reënboognasie omgekeerd eweredig sal wees aan Mbeki se harde woorde dat Suid-Afrikaners die nalatenskap van hul moeilike geskiedenis moet ondersoek en nie hul kop in die sand moet steek nie?

Toe Mbeki op die ANC se nasionale konferensie in 1998 eenstemmig as die party se president verkies is, het hy aan afgevaardigdes op die vergadering gesê die reënboog is 'n vals metafoor wat deur 'n gees van vals optimisme omgeef is.

"Mens kan nie versoening tussen swartes en wittes bewerkstellig in 'n situasie waar armoede en voorspoed steeds op grond van ras bepaal word nie," het Mbeki die volgende jaar kort ná sy inhuldiging gesê.

Wat Mbeki geïmpliseer het, het sinvol geklink vir baie wat nog uitgelaat was, vir wie die reënboogmetafoor 'n goedvoel-samelewing beteken het wat nie bereid is om aan die onaangename werklikhede van ongelykheid en rasoorheersing aandag te gee nie. Om die metafoor uit te brei: dit is moontlik dat die gevolg van vrees vir onstabiliteit en onsekerheid in 1994 'n skynreënboog was wat 'n doelwitgebrek geskep en onvermydelik die verharding van houdings teenoor Mbeki se bestuur uitgestel het.

Om dit in perspektief te stel: vanaf die oomblik van sy inhuldiging het Mandela dit sy persoonlike missie gemaak om nuwe rasse-samehorigheid te skep en die wit minderheid voortdurend van hul welstand onder 'n meerderheidsregering te verseker en te beklemtoon hoe belangrik die reënboognasie is.

Hy het grootmoedig teenoor sy ou teëstanders gebly. Hy het FW de Klerk in sy kabinet verwelkom, het regse Afrikaner-politici gerus gestel en gesorg dat standbeelde, monumente en straatname wat helde uit die Afrikaner-geskiedenis huldig, onaangeraak bly.

Intussen het die stadige pas van verandering tot groter rusteloosheid gelei. Die proteskultuur is diep gesetel. Wetteloosheid het oral begin uitbreek. "Daar was nie genoeg geld om te doen wat ons beplan het nie," onthou Mac Maharaj, een van Mandela se sleutelministers. "Ons moes ons bloudrukke laat vaar en van voor af begin."

Uiteindelik, op die ouderdom van 75, ná 50 jaar as 'n politieke aktivis in die stryd om apartheid te oorwin, het Mandela 'n bekentenis gemaak - so formidabel soos enigiets wat dit voorafgegaan het - wat die einde van die wittebroodstydperk aangedui het. "Ek het ontdek dat nadat mens 'n groot bult uitgeklim het, daar nog baie meer bulte is om te klim," is sy gevolgtrekking in sy outobiografie.

Of dit 'n stille erkenning van 'n onvolmaakte begrip van die uitdaging van transformasie was, hang van die interpretasie van die geskiedenis af. Wat nou saak maak, is in hoeverre die droom fiktief was, en in watter mate Mbeki se presidentskap aangedryf is deur 'n bewuste begeerte om die rug op die Mandela-wonder te keer.

Op een vlak kan geredeneer word dat Mandela toegelaat het dat regeringsake ronddobber deur eerder die kitsbevrediging van simboliese gebare te verkies. Soos Mark Gevisser, Mbeki se biograaf, dit in sy verslag oor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) stel, wou Mandela 'n ondersoek na menseregteskendings in die apartheidsera gehad het, nie ter wille van vergelding nie, maar om die ongeregtighede van die verlede te suiwer.

"Daarom het die wyer ongeregtighede van die apartheidstelsel - soos die gedwonge verskuiwing van sowat 3 miljoen mense - nie aandag gekry nie. Net die buitensporighede van apartheid is ondersoek, nie die alledaagse dinge nie," skryf Gevisser.

Die alledaagse dinge van apartheid was presies wat die land se kruitvat sou word - "om die steke los te skeur van wonde wat gesond begin word het", soos De Klerk, voormalige leier van die Nasionale Party, dit in 1995 in sy kritiek op die WVK gestel het.

Agterna beskou, lyk dit byna onvermydelik dat Mandela se pogings om eerder die uiterste vorme van apartheid as die alledaagse dinge reg te stel, sou uitrafel. Die verlede was inderdaad steeds deel van die hede, hoe hard Mandela ook al die aandag op die armer dele van die samelewing probeer vestig het.

Tog is dit moeilik om jou in te dink dat 'n gewysigde weergawe van 'n basies verdeelde nasie - wat Mbeki later "twee nasies" genoem het - by mense oor die rasse-skeiding heen aanklank sou vind. "Daar was geen alternatief vir die charisma en optimisme van die man en die wonder nie," het die skrywer en akademikus Martin Meredith in 2006 in 'n ontleding gesê.

Feit is, op 'n belangriker vlak was die reënboog nie soseer 'n doelwitgebrek nie, maar eerder 'n noodsaaklike manier om vooruit te gaan. Wanneer Mandela oor sy jare in die tronk praat, is dit met biografiese besonderhede van geduld, wat soms aan selfspot grens.

Wanneer hy aan die vroeë jare van demokrasie terugdink, onthou Tutu 'n vrygewige gees, ondanks die strafheid en beproewing van gevangenskap.

"Hy het iemand geword wat die vrese en angs van sy teëstander kon verstaan en het in daardie tyd grootmoediger geword."

Mandela se leierskap het die verfyning van of variasies op dié tema behels. Gevisser sê: "Sy benadering tot die verlede was die gevolg van sy buitengewone vermoë om 'n langtermynsiening van maatskaplike verandering te neem, en dalk ook van die manier waarop hy - op sy koninklike manier - toegelaat het dat sy liggaam en siel die simbool van die nasie word."

Dis nie 'n wonder dat dit vir Mbeki se presidentskap moeilik sou wees om die definisie van die leier te verander nie: van meer as lewensgroot tot minder as volmaak. Die teenoorgestelde is inderdaad 'n kultuur van onverdraagsaamheid wat Mbeki eenkeer erken het in "baie verskillende houdings oor rasversoening" gewortel is. Volgens Gevisser glo Mbeki waarlik dat Mandela daartoe bygedra het om die idee van "die een goeie inboorling" te bevorder deur die boodskap aan wit Suid-Afrikaners oor te dra dat niks sou verander nie. En dis waar die probleem lê. Om Mandela, die roemryke patriarg wat bo die alledaagse gewoel verhewe is, se skoene vol te staan, was simbolies die magtigste verwysingspunt vir die kwyning van Mandela se nalatenskap en die land se verval tot die huidige soort tirannie.

Selfs Mbeki het erken dat as hy Mandela se teenoorgestelde is, dit waarskynlik gewortel is in die negatiewe uitwerking wat Mandela se strewe na rasversoening op die aanvaarding van Mbeki as sy opvolger - en daarom sy eie vermoë om werklike transformasie te bewerkstellig - gehad het.

Met verloop van tyd sou dit alles daartoe lei dat Mbeki se leiding aan die grootsheid van sy voorganger gemeet word. Aan die een kant is daar Mandela se "verstommende altruïsme en die besef dat 'n ware leier bestaan ter wille van dié wat gelei word", soos Tutu dit stel. Aan die ander kant is daar Mbeki se raad aan Nkosazana Dlamini-Zuma, destydse minister van gesondheid, dat woede oor die verlede behels dat jy fyn trap oor die toekoms. Dit het nie gehelp dat Mandela, wat deur aanvoeling aangedryf word, dit besef het in die tyd toe die tussentydse grondwet in die vroeë 1990's opgestel is nie. Te midde van al die dwarsstrome het Mandela alles moontlik gedoen om te keer dat die senior leierskorps van sy party Mbeki as adjunkpresident verkies, en Cyril Ramaphosa eerder voorgestaan. Hy het die leierskorps se onenigheid as 'n konflik tussen grondvlakaktiviste en afgeslote bannelinge be-skou - eersgenoemde vol onskuldige geesdrif en vermetelheid, laasgenoemde oorryp en uitgeput. Hy het self bedenkinge oor Mbeki gehad: in sy aanvoeling en beredenering het hy die aanslag bespeur wat 'n imperiale presidentskap tot gevolg sou hê.

Mandela het sy eie kommer in 'n beroemde opmerking op die ANC se 50ste konferensie in 1997 uitgespreek toe Mbeki eenstemmig verkies is om hom op te volg.

"'n Swaar verantwoordelikheid rus op 'n leier wat eenstemmig verkies is. Hy kan dié magtige posisie gebruik om op sy teëstanders wraak te neem, om hulle uit te skuif of van hulle ontslae te raak, en hom met jabroers en -susters te omring. Sy eerste plig is om sy kollegas gerus te stel sodat hulle sake vrylik en vreesloos in interne strukture kan bespreek."

Dus spruit Mbeki se raspolitiek - en sy oortuiging dat die pers en die sakewêreld weens 'n anti-ANC-agenda kop in een mus met die linkervleuel teen hom gedraai het - dalk uit 'n bepaalde oomblik waarin Mandela Ramaphosa gesteun het.

En gevolglik het 'n vreemde dualisme ontstaan. Soos Gevisser dit stel: "Terwyl Mbeki aan Mandela die lirieke verskaf het om sy vryheidslied te sing, moes hy blykbaar die negatiwiteit, die skeptisisme en die twyfel dra. 'Ons is vry!' het Mandela, die optimis, luidkeels gesing. Wel, nog nie, het 'n angstige stem agter uit die kamer geantwoord wat ons daaraan herinner het dat eeue van wit oorheersing en rassisme nog oorkom moes word."

Teen die tyd dat Mandela as president uitgetree het nadat hy die amp net een termyn beklee het, was dit byna asof Mbeki sy transformasieagenda tot 'n doelgerigte teëstand teen Mandela se nalatenskap gedryf het, eerder as 'n manier om rasseharmonie en -verdraagsaamheid te bewerkstellig. Toe Mbeki as president oorgeneem het, het hy reeds 'n reputasie as 'n aartsmanipuleerder verwerf. 'n Dekade later is die tragedie van Mandela se nalatenskap die tirannie van 'n situasie wat deur Mbeki se aanstellerigheid bevlek word. Wat volgens Mandela noodsaaklik vir demokrasie is, het regter Albie Sachs gesê, is dat 'n grondwet en handves van regte wat verdraagsaamheid en harmonie waarborg, absolute heerskappy oor die samelewing behoort te hê. Dís duidelik uit Mandela se onteenseglike openbare uitsprake tydens en ná sy presidentskap.

Kan ons dit waag om weer te droom? In die mate waarin Mbeki se nalatenskap deur Mandela se prestasies bepaal kan word, is Mandela se reënboognasie Mbeki se mislukking. Dié mislukking - trouens, die triomf van hoop - was toe Mbeki verlede jaar in Polokwane die vertroue van sy eie party (en land) verloor het.

Daar is dus tog nog hoop. Mbeki se nederlaag kan sekerlik beskou word as 'n teruggryping na die hoop wat Mandela aan Afrikaner-studente gegee het toe hy as president uitgetree het. "Ek nader my einde," het hy gesê. "Ek wil tot die ewigheid kan slaap met 'n groot glimlag op my gesig, wetende dat die jeug, die meningsvormers en almal oor die skeiding heen reik om die nasie te probeer verenig."

We live in a world where facts and fiction get blurred
In times of uncertainty you need journalism you can trust. For only R75 per month, you have access to a world of in-depth analyses, investigative journalism, top opinions and a range of features. Journalism strengthens democracy. Invest in the future today.
Subscribe to News24
Rand - Dollar
15.72
+0.8%
Rand - Pound
20.75
+1.1%
Rand - Euro
17.78
+0.4%
Rand - Aus dollar
11.24
+0.4%
Rand - Yen
0.14
+1.1%
Gold
1,782.69
-0.1%
Silver
22.42
-0.4%
Palladium
1,853.84
+0.0%
Platinum
957.50
0.0%
Brent Crude
75.44
+3.2%
Top 40
65,993
-0.8%
All Share
72,404
-0.7%
Resource 10
68,624
-2.1%
Industrial 25
95,800
-0.2%
Financial 15
14,289
+0.7%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot