Kaapstad. - Die verskriklike aardbewings in Japan, Nieu-Seeland en verlede jaar
in Haïti laat ’n mens wonder of ons ooit in Suid-Afrika so kwaai getref kan word, en hoe dit jou
finansies kan skud. Is jy verseker vir as jou huis begin kraak?
Suid-Afrika se risiko vir aardbewingskade is volgens kenners
grotendeels weens natuurlike seismiese oorsake; mynverwante gebeure weens diep
ondergrondse mynbedrywighede; asook aardbewings wat buite ons grense gebeur,
maar steeds sterk genoeg is om ’n uitwerking hier te hê.
“Die eerste gedetailleerde navorsing oor Suid-Afrika se seismiese
risiko vir die versekeringsbedryf is in 2003 gedoen deur prof. Andrzej Kijko,
direkteur van die Aon-Benfield Natuur-Risikosentrum aan die Universiteit van
Pretoria. Dit toon dat seismiese risiko’s nie ’n geringe komponent van
eiendomsgradering in Kaapstad, Johannesburg en Durban moet wees nie,” sê me.
Christelle Fourie, besturende direkteur van MUA Insurance Acceptances.
Mnr. Randolph Moses, besturende direkteur van Hanover Re Africa, sê
die bedryf se risiko vir aardbewings is groter in Kaapstad as in Johannesburg,
hoewel aardbewingblootstelling weens diepmynbedrywighede een van die grootste
verwante risiko’s in Johannesburg is.
“Ons is bewus van die foutlyn rondom Milnerton buite Kaapstad wat
blykbaar sowat 8 km van die Koeberg-kragsentrale in die see begin en dan deur
Milnerton en die Kaapse Vlakte loop.”
Na bewering het Suid-Afrika se eerste aangetekende aardbewing juis
in 1620 naby Robbeneiland gebeur. Die volgende groot aardbewing in die land was
in Desember 1809 in Milnerton, wat na raming 6,1 op die Richterskaal
geregistreer het.
Fourie sê ander riskante gebiede vir aardbewings is onder meer St.
Lucia in KwaZulu-Natal, waar ’n aardbewing van 6,0 tot 6,5 in 1932 plaasgevind
het; Koffiefontein in die Suid-Vrystaat, waar een van 6,0 in Februarie 1912
gemeet is; en dan die bekende aardbewing van 1969 in die Ceres- en
Tulbagh-streek, wat sowat 6,1 tot 6,3 gemeet het. Laasgenoemde se
versekeringsverliese is destyds op $7,4 miljoen geraam.
Aardskuddings is egter ook ’n groot werklikheid in Gauteng – dink
maar aan die skudding in 2005 by Stilfontein
waarin twee myners dood en verskeie beseer is. “Dit het 5,3 geregistreer en ’n
regeringsondersoek het gewys dat dit deur voormalige mynbedrywighede veroorsaak
is.”
Aardbewingdekking is deel van basiese versekering teen gevare en
behoort deel te wees van basiese korttermynversekeringspakkette. Daar is egter
versekeraars wat aardbewings wat deur mynbedrywighede veroorsaak is, uitsluit.
Daarom moet mense wat in myngebiede en veral Gauteng woon, presies seker maak of
hulle wel gedek word.
“In Suid-Afrika gee die meeste polisse dekking teen insakking en
grondverskuiwing, maar dit kan beperk wees met
baie spesifieke uitsonderings,” sê me. Lizette Erasmus, bemarkingsbestuurder
van Integrisure.
“Daar is ook dan juis polisse wat skade weens mynbedrywighede
uitsluit.” Dit beteken dat skade aan buitegeboue, jou swembad, tennisbaan en tuin ook uitgesluit kan wees.
Volgens Fourie loop huise op water- en rivierfronte ook dikwels die
risiko van insakking of grondverskuiwing. Versekering daarteen verskil onder die
verskeie versekeringsmaatskappye en daarom moet jy jou polisdokument goed deurlees om te sien presies
waarvoor jy gedek is.
As ’n voertuig omvattende dekking het, behoort dit 100%-dekking vir
enige skade of verlies ten tye van ’n aardbewing hê.
Wat tsoenami’s betref, is stormskade gewoonlik ingesluit onder alle
afdelings. Daar is egter uitsluitings – weereens vir huise wat op die see- of
waterfront is, sê Fourie. As daar gereelde vloed- of waterskade is, kan die versekeraar óf weier om jou in die toekoms teen sulke skade te dek óf ’n
verhoogde bybetaling eis. As jou huisdekking
vloedskade uitsluit en die insakking vind weens ’n vloed plaas, sal jy
waarskynlik ook nie gedek wees nie, al het jy dekking teen insakking.
Erasmus sê kernkragskade is ’n algemene uitsondering in die
plaaslike mark en niemand dek dit nie. Dit beteken jou huishoudelike goedere sal nie gedek wees as dit
bestraal sou word of ontplof as gevolg van ’n kernkragprobleem nie.
Dis
nie net verbruikers wat hul versekering vir aardbewings en natuurrampe moet
nagaan nie, maar Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappy ook.
“Versekeraars
en herversekeraars ondersoek beslis hul blootstelling aan katastrofes en die
verliese wat moontlik weens byvoorbeeld aardbewings gely kan word. Dis egter ’n uitdaging om die regte aktuariële
model te bou, want dit vereis ook die kundigheid van ander spesialiste soos
geoloë.
“Dis
onduidelik hoe dikwels sulke modelle bygewerk word en of dit faktore soos
stadsuitbreiding in ag neem,” sê mnr. Randolph Moses, besturende direkteur van
Hanover Re Africa.
Bloomberg berig die katastrofe-modelleerder AIR Worldwide reken
versekeraars en herversekeraars kan eise van
¥1 200 miljard (sowat R104 miljard) tot ¥2 800 miljard verwag net weens die
aard- bewingskade, sonder dat die tsoenami-skade ingereken word. Volgens AIR is
persoonlike en kommersiële aardbewingversekering in Japan redelik laag met net
14% tot 17% van huise en ondernemings wat gedek is.