Deurbraak met aktes

Johannesburg. - Die lang verwagte skuif na ’n ten volle elektroniese aktekantoor-stelsel is uiteindelik in die vooruitsig.

Maar of die nuwe elektroniese akte-registrasiestelsel (e-DRS) die tydrowende eiendomsregistrasieproses gaan versnel, bly debatteerbaar.

“Die vordering wat die afgelope 18 maande gemaak is, was beduidend,” sê me. Mari van Wyk, hoofbestuurder by Korbitec vir GhostConvey, ’n sagteware-groep wat 80% van Suid-Afrika se oordragpraktyke bedien. Dié groep was aktief betrokke by die e-DRS-proses en het verskeie bydraes gelewer tot die e-DRS-beleidsdokument en die elektroniese akte-registrasie-handves van 2009. Sy sê die kern-e-DRS-beleidsdokument is hersien met die insluiting van die kommentaar en voorstelle van die eiendomsektor en die regsgemeenskap.

“Die hersiene dokument het die weg gebaan vir die herskrywing van die Akte-registrasiewet tot die elektroniese akte-registrasie-handves om die elektroniese proses in te sluit.” Die handves is deur die eiendomskomitees van die wetsverenigings voorgelê vir die terugvoering en kommentaar van aktebesorgers. Dit sal moontlik later vanjaar aan die parlement voorgelê word.

Van Wyk sê die e-DRS-stelsel sal uiteindelik ’n volledige elektroniese databasis van Suid­Afrikaanse­ eiendomsbesit vorm.

“Die land se grondhervormingsproses, wat ’n ingewikkelde mengsel van eienaarskaptransaksies insluit, sal ook deur die nuwe stelsel vergemaklik word.”

GhostConvey voorsien dat die e-DRS tussen 2014 en 2016 aanlyn sal wees.

Eiendomsrolspelers reken hoewel die elektroniese aktekantoorstelsel ’n tree in die regte rigting is, gaan dit die proses om ’n eiendom te registreer nie noodwendig bespoedig nie.

Dit duur steeds tussen 60 dae en 90 dae van die verkoopdatum totdat die eiendom geregistreer is omdat dit ’n ingewikkelde proses is waarby talle rolspelers betrokke is.

Mnr. Schalk van der Merwe, ­eiendomsprokureur van VFV Mseleku, sê die proses sal net versnel word as al die prosesse in die ketting elektroniese stelsels kry.

Hy reken die grootste struikelblok lê steeds by die stadsrade wat maande neem om munisipale klaringsertifikate uit te reik. ’n Klaringsertifikaat dien as bewys dat eiendomsbelasting betaal is en is noodsaaklik om ’n eiendomsoordrag by die aktekantoor af te handel. Van der Merwe sê dit duur tans twee maande of selfs langer om dié sertifikate by die stads­rade te kry.

Aan die positiewe kant meen hy ’n elektroniese aktekantoorstelsel sal dit meer toeganklik maak vir aktebesorgers op die platteland, wat met die druk van ’n knoppie hul dokumente kan indien. Die vraag wat hy stel, is of al die aktekantore landwyd nog nodig gaan wees as die elektroniese stelsel op dreef is.

Nelspruit het onlangs ’n aktekantoor gekry en daar was ook sprake dat Rustenburg en Polo­kwane kantore gaan kry.

“Met ’n elektroniese aktekantoorstelsel sal dit sin hê om een sentrale verwerkingskantoor te hê wat die hele land bedien.”
We live in a world where facts and fiction get blurred
In times of uncertainty you need journalism you can trust. For only R75 per month, you have access to a world of in-depth analyses, investigative journalism, top opinions and a range of features. Journalism strengthens democracy. Invest in the future today.
Subscribe to News24
Rand - Dollar
15.43
-0.6%
Rand - Pound
20.74
-0.4%
Rand - Euro
17.33
-0.5%
Rand - Aus dollar
10.93
-0.2%
Rand - Yen
0.13
-0.6%
Gold
1,815.93
-0.2%
Silver
23.34
-0.7%
Palladium
2,317.50
-0.8%
Platinum
1,025.50
-0.9%
Brent Crude
89.96
+2.0%
Top 40
67,364
0.0%
All Share
73,797
0.0%
Resource 10
75,253
0.0%
Industrial 25
91,472
0.0%
Financial 15
14,925
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Company Snapshot