Ask an expert
Question

09 Jan 2006

WELKOM TERUG!!
Beste HeartDoc

BAIE WELKOM TERUG!!

Hoop dokter het lekker uitgerus en dat dokter sommer baie energie het vir 2006. ‘n Baie Voorspoedige Nuwe Jaar vir dokter!!

Dokter, ek het my pa so ver gekry om ons aan te gaan sluit by Virgin Active Gym siende dat hy fikser moet word. Hulle het uitgevra oor my pa se gesondheid en hom aangeraai om eers sy Kardioloog te raadpleeg om uit te vind wat hy mag doen en wat hy nie mag doen nie. Dit is vir ons redelik moeilik om in verbinding met die Kardioloog te tree weens die groot afstandsgaping. Ek wil dus asseblief vir dokter se raad vra en ook of dokter nie dalk moontlik vir my ‘n oefenprogram kan e-pos wat geskik sal wees vir my pa nie. Net indien dokter dalk moontlik so iets in dokter se besit het.

Verder wil ek vir dokter vra wat moontlik met my fout kan wees. Laas jaar in September toe ons in S.A. was het ek begin swaar asem haal en dit was met tye ook seer as ek gesluk het. Dit het weggegaan toe ons terug Namibia toe gekom het. Die laaste maand of so ervaar ek dit weer en ek weet nie of dit moontlik weens stres kan wees nie. ‘n Ander tannie het al vir my gesê dat ‘n mens se midrif saamtrek as jy gespanne is (en ek kan baie stres) en dan sukkel mens om asem te haal. Dit voel asof ek gereeld vars lug moet skep, as dokter weet wat ek bedoel? Indien dit seker maar net spanning is, wat kan ek vir verligting doen? Ek het al agter gekom dat dit my nie pla wanneer my gedagtes besig is of wanneer ek baie besig is nie. Ek stres so baie en is net bang dat ek in ICU op ‘n longmasjien of so iets sal beland :-) RAAD ASSEBLIEF DOKTER!!

Dit het baie goed gegaan met my eksamens en ek het ‘n baie goeie rapport gehad. Dit is nou nog net vir Matriek hierdie jaar.

Dokter is seker al baie besig daardie kant. Alle sterkte en mag dit net goed gaan hierdie jaar met al julle operasies!!

Groetnis
Morné
Answer 877 views
Expert
HeartDoc

01 Jan 0001


Hallo Morné,

Ja, ons het die nuwe jaar sommer ingeval met ‘n klomp spoed-hartoperasies, so ons bly maar bedrywig. Geluk met die eksamens – ek weet sommer nou al jy sal maklik jou matriek deurkom. Maar moenie die boeke nou wegpak nie ,hoor – ek verwag groot dinge van jou !

Morné, ek het nie die sort oefenprogram wat jy soek nie. Wat die gym eintlik wil hê is ‘n idée van Pa se oefeningsvermoë, en of daar enige oefeninge is wat hy nie mag doen nie. Die enigste persoon wat dit sal kan sê is sy dokter. Ek dink wat jy wel sal kan doen, is om die dokter ‘n brief te faks, waarin jy die gym storie mooi uiteensit, (net soos jy vir my in jou vraag verduidelik het). Vra dan vir hom om vir jou ‘n kort verslag te stuur wat jy dan aan die gym kan gee as gids. Die verslag sal dit dan moontlik maak om ‘n “tailormade” oefeningsprogram op te stel, wat spesiaal vir Pa en sy behoeftes en beperkinge is. Oor die algemeen, sal ek hom aanraai om nie met swaar gewigte te werk nie, of enige oefeninge doen wat moontlik sy borskas sal ooprek nie. Bene-oefeninge is nie ‘n probleem nie, maar hy moet versisgtig werk met sy arms en bolyf. Maar dit sal jy kan verstaan as jy onthou dat sy borskas letterlik oopgesaag was, en moes met staal drade weer toegemaak word.

Nou, oor jou probleem is jy waarskynlik reg. Dit klink wel soos ‘n mate van brongospasma, wat dikwels deur spanning veroorsaak kan word. ‘n Mens kry net nie die ding in jou keel gesluk nie, daar is soms ‘n irriterende hoesie, en dit voel asof jy net nie kan asem haal nie. En ‘n rukkie later is alles weer weg. Spanning kan die lugweg-pype laat vernou, en dit – wat ons brongospasma noem – kan ook veroorsaak word deur allergië. In daardie geval word dit asma genoem, maar die onderliggende meganisme, die van vernouing van die lugweë, is dieselfde. As jy baie nou dophou, sal jy besef dat inasem maklik is, maar uitasem ‘n bietjie moeiliker is. Dit is wel brongospasma. Dit gesê, kan ek total verkeerd wees. Die enigste manier van ‘n korrekte diagnose te maak is om ondersoek te word tydens so ‘n aanval, waar daar die kenmerkende “fluit-geluide” gehoor kan word.

Miskien moet jy ‘n bietjie lees oor Stress Management Techniques – jy het ‘n groot jaar wat voorlê, en jy moet die storie onder beheer kry. As jy dit nie regkry nie, is daar medikasie beskikbaar, maar dit is nie nou die best opsie nie, tensy jy wel allergiese Asma (wat nie net stress is nie) ontwikkel het.

Stuur groete vir Pa, en geluk dat julle nou saam gym toe gaan. Ek hoop jy geniet die sports saam met jou Pa.

HeartDoc
The information provided does not constitute a diagnosis of your condition. You should consult a medical practitioner or other appropriate health care professional for a physical examination, diagnosis and formal advice. Health24 and the expert accept no responsibility or liability for any damage or personal harm you may suffer resulting from making use of this content.