
Dit was glo met ’n geskop en ’n geskree dat Owam Shumi, die eerste baba wat by die nuwe Lenmed Royal-hospitaal-en-hartsentrum in Kimberley gebore is, in die wêreld gebring is.
Owam was op Sondagoggend 1 Oktober die eerste baba wat in dié hospitaal se neonatale hoësorgeenheid gebore is en het net 1 160 g by geboorte geweeg.
Sy is die dogter van Thembeka Shumi (25) en Kagisho Modise (37), albei werksaam by die Shoprite in Chapelstraat in Kimberley – Thembeka as ’n voorraadklerk en Kagisho by die goedere-afdeling.
Volgens sr. Pearl Alexander, eenheidsbestuurder van die neonatale hoësorgeenheid, was Thembeka 30 weke swanger toe daar besluit is om die baba weens die ma se verhoogde bloeddruk met ’n keisersnee in die wêreld te bring om verdere komplikasies te vermy.
Dr. Lizel Brits, ’n ginekoloog, het Thembeka gehelp om geboorte te gee, met dr. Esta van Niekerk, ’n pediater, wat haar bygestaan het.
Sr. Annalize Swan, wat gedurende die geboorte in die teater gehelp het, sê dat alles vlot verloop het en dat Owam gehuil het vandat sy gebore is, wat ’n goeie teken is.
Volgens Hector Mackay, hospitaalbestuurder, is Owam se gewig net ’n derde van die gewig van ’n normale pasgebore baba.
Volgens Alexander is Owam die eerste dag aan ’n ventilator gekoppel om haar met asemhaling te help. Daarna is sy van die ventilator ontkoppel en suurstof gegee.
Volgens haar is daar reeds die Dinsdag met voeding begin.
“Sy doen eintlik goed vir so ’n klein babatjie. Sy is ’n klein vegtertjie. Sy skop en trap en pluk als,” het Alexander skertsend gesê.
Volgens haar sou Owam in die broeikas bly totdat sy goed aangepas is, ’n goeie suigrefleks het en die ma goed voorberei is om vir haar te sorg.
Die hospitaal se hartkateteriseringslaboratorium vir gespesialiseerde hartsiektebehandeling – ’n eerste in sy soort in die Noord-Kaap – behoort volgens Mackay teen November in bedryf te wees.