Paar wreed aangeval

Piet Els en Rikkie Alsemgeest wat Woensdag (24/01) in die vroeë oggendure op Els se plaas buite Kimberley aangeval is.
Piet Els en Rikkie Alsemgeest wat Woensdag (24/01) in die vroeë oggendure op Els se plaas buite Kimberley aangeval is.

Die toestand van die sakeman wat verlede week op sy plaas buite Kimberley aangeval en met ’n strykyster gebrand is, het intussen versleg.

Volgens Denise Coetzee, woordvoerder van die Gariep Mediclinic in Kimberley, is Piet Els (86) Vrydag na die hoësorgeenheid oorgeplaas en is sy toestand kritiek.

Sy vriendin, Rikkie Alsemgeest (66), is glo Saterdag (27/01) ontslaan.

Volgens kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Els en Alsemgeest is Woensdag (24/01) in die vroeë oggendure op Els se plaas aangerand en met ’n strykyster gebrand om toegang tot die kluis te kry.

Albei het veelvuldige beserings opgedoen, met Els wat ook kopbeserings opgedoen het. Hulle is geskop, geklap en met ’n pyp geslaan, en van Els se toon­naels is uitgetrek.

“Dit voel alles nog so onwerklik,” het Alsemgeest gesê.

“Ons het omstreeks 02:00 gehoor hoe die inbrekers die kombuis- en houtdeur in die gang oopbreek. Die gewapende mans het toe vuurwapens, geld en diamante geëis.”

Die paar is na die kamer gesleep waar die kluis is.

“Piet was so geskok. Hy het nie sy bril opgehad nie en kon nie mooi sien nie. Hy kon ook nie die kluis se knop met die kode oopdraai nie.

Elke keer as die knop vasgehaak het, het hulle hom wreed geslaan en geskop,” het Alsemgeest gesê.

“Toe stel ek voor dat hulle eerder die kluis met ’n hoekslyper oopsny. Hulle het die werkwinkel oopgebreek om dit en ’n koevoet te gaan haal. Dit het lank geneem om die kluis oop te sny.

“Hulle het my nagklere afgepluk, maar ek is nie verkrag nie. Ek is agter op my kop en op die been met ’n strykyster gebrand en Piet op sy kuit. Hy was so swak, hy het net bly lê. Tog het hulle hom vasgebind.

Ek is met my hande agter my rug op die stoel vasgebind en my kop is met ’n gordel aan die stoel vasgemaak.”

Volgens haar seun Niel is dit onduidelik hoe die aanvallers aanvanklik die kragtoevoer afgeskakel het, maar weer aangeskakel het om die hoekslyper en die strykyster te gebruik.

“Dit is ook nie duidelik of die werkers enigiets kon hoor nie.

Die kluis is aan twee kante gesny. Hulle het ook met geld uit my ma se handsak weggekom,” het hy gesê.

“My ma het haarself losgemaak en alarm gemaak. Die huishulp het ingekom en die polisie is ontbied.”

Dit word vermoed dat die aanvallers na Johannesburg gery het.

Els besit talle eiendomme en Alsemgeest besit Kimberley Cloth­ing.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê vier onbekende aanvallers het die slapende paartjie in die huis oorval.

“Die verdagtes het na bewering met aansienlik waardevolle besittings, ’n jaggeweer en ’n wit Mercedes-Benz-voertuig gevlug. Die voertuig is later op die R31-pad naby Phutanang, Kimberley, opgespoor.”

Dr. Wynand Boshoff, die Vryheidsfront Plus se leier in die Noord-Kaap en ’n lid van die Sol Plaatje-munisipaliteit, het ná die aanval in ’n verklaring gesê hoewel die provinsie tot dusver minder plaasaanvalle as ander provinsies beleef het, hierdie aanval baie mense tot die werklikheid geruk het.

“Min is nog oor die aanval bekend, buiten dat dit deur oormatige wreedheid gekenmerk is. Luidens mediaberigte is albei slagoffers met ’n strykyster gebrand en geslaan, waarna hulle vasgebind en beroof is. Hulle sterk tans in die hospitaal aan.

“Die vraag kom altyd na vore of ons met ‘gewone’ of politieke misdaad te doen het. In hierdie verband moet Els se status as prominente grondeienaar rondom Kimberley in ag geneem word,” het Boshoff gesê.

“Politici in die Sol Plaatje-munisipale raad het oor die afgelope maande dikwels in verband met Els na onteiening sonder vergoeding verwys as ’n manier om grond vir goedkoop residensiële ontwikkeling beskikbaar te kry.

“Die besonderhede rondom die aanval is onbekend, maar dit is jammer dat politici met onverantwoordelike uitsprake moontlik die grond vir sulke aanvalle voorberei.” sê dr. Boshoff.

Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, ao. Patrick Dibebe, by 082-752-2577 bel.

sê dr. Boshoff.

We live in a world where facts and fiction get blurred
In times of uncertainty you need journalism you can trust. For only R75 per month, you have access to a world of in-depth analyses, investigative journalism, top opinions and a range of features. Journalism strengthens democracy. Invest in the future today.
Subscribe to News24
Lockdown For
DAYS
HRS
MINS
Voting Booth
Who do you think is going to win the 2020 US election?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Biden is going to take it
46% - 6719 votes
It's four more years for Trump
54% - 7813 votes
Vote
ZAR/USD
16.22
(+0.67)
ZAR/GBP
21.23
(+0.99)
ZAR/EUR
19.18
(+0.92)
ZAR/AUD
11.53
(+0.68)
ZAR/JPY
0.15
(+0.82)
Gold
1898.55
(-1.18)
Silver
24.55
(-1.54)
Platinum
876.00
(-0.85)
Brent Crude
42.06
(-3.35)
Palladium
2377.00
(-0.06)
All Share
54796.42
(-0.99)
Top 40
50276.84
(-1.23)
Financial 15
10376.28
(+2.34)
Industrial 25
74130.97
(-0.60)
Resource 10
52819.20
(-2.99)
All JSE data delayed by at least 15 minutes morningstar logo