
Intussen eis die DA antwoorde op waarom die kompleks van R2 miljard (wat al 12 jaar in aanbou is) nie voltooi is nie.
Melissa Hattingh, DA-lid van die provinsiale wetgewer (LPW), sê in ’n verklaring dit is hoog tyd dat Mxolisa Sokatsha, LUR, eerlik is.
“Die departement het vroeër vanjaar aan die parlementêre staande komitee gesê die gebou is 100% voltooi, maar dat haakplekke reggestel word,” sê Hattingh.
“Volgens die departement was die haakplekke glo 70% voltooi. Sokatsha skuld almal ’n verduideliking oor wat verkeerd geloop het. Niemand weet wanneer die departement sy munisipale skuld gaan betaal nie, wat die oorhandiging van die nuwe hospitaal in die gedrang bring.”
Chrystal Robertson, woordvoerder van die departement, sê die spertyd is weens die buitengewoon hoë reënval nie gehaal nie.
“Die munisipaliteit se onlangse onderbreking van watertoevoer vir vyf dae het die herstelwerk ook benadeel,” sê Robertson.
Die departement onderhandel met die munisipaliteit oor agterstallige erfbelasting en munisipale diensgeld.
“Dit sal egter nie die opening of dienslewering benadeel nie.”