
Die Intermediêre Skool Lutzburg is Saterdag (14/04) in die Noord-Kaapse uitdunronde vir 2018 se Danone Nations Cup-sokkertoernooi as die wenner aangewys.
Die spanne het in die Mxolisi Dicky Jacobs-stadion in Upington kragte gemeet.
Vyf skole het Saterdag deelgeneem om die onderskeie streke te verteenwoordig: die Laerskool Kareeville (Pixley ka Seme), Hoërskool Vaalrivier (Frances Baard), Laerskool Aggeneys (Namakwa), Laerskool Gaegeke (John Taolo Gaetsewe) en Lutzburg (ZF Mgcawu).
Die span van Lutzburg sal die Noord-Kaap in die nasionale uitdunronde in Gauteng verteenwoordig. Die skool wat die nasionale uitdunronde wen, sal Suid-Afrika op internasionale vlak teen 31 ander lande verteenwoordig.
Lutzburg en die Laerskool Aggeneys het Saterdag bo-aan die punteleer geëindig om in die eindronde mee te ding. Met al twee spanne op agt punte, was die eindstryd ’n tawwe uitdaging wat gelyk geëindig het (0 – 0).
Die stryd is met ekstra tyd en doelskoppe beslis. Lutzburg het as die wenner uit die stryd getree en is as die Noord-Kaap se verteenwoordiger aangewys.