’n Boer van die Barkly-Wes-distrik sê hy het skade van sowat R609 000 gely toe veediewe 42 van sy beeste helder oordag van sy plaas af gesteel het.
Die voorval het op 13 September op die plaas van Johan Snyman (45) gebeur.
Volgens Snyman, wat ten tye van die voorval by sy onderneming in Hartswater was, het die veediewe ’n gat deur sy drade geknip waarna hulle vermoedelik die beeste aangejaag het.
Die diere is volgens hom toe op ’n voertuig by ’n drukgang op ’n nabygeleë plaas gelaai.
Die voorval het volgens hom omstreeks 09:30 gebeur.
“My pa het my van die plaas af gebel en gesê dat daar beeste is wat in die pad af loop en dat die draad geknip is.” Snyman het na die plaas gery om ondersoek in te stel. Hy het die spore gevolg en sê dit lyk asof ’n vragmotor gebruik is om die beeste weg te ry.
Lt.kol. Dimakatso Mooi, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens Mooi is daar tot op hede geen verdagtes in hegtenis geneem nie.
Mense met inligting moet die ondersoekbeampte a.o. Martin Coetzee van die polisie se veediefstaleenheid by 082-454-3540 of Stop Misdaad (086-001-0111) bel. Inligting word vertroulik hanteer.