
SPORTLUI wat ’n voorsmakie van die ware Ysterman-uitdaging wil kry, moet nie die 5150 Driekampkampioenskap misloop nie.
Port Elizabeth, tans die gasheer vir die jaarlikse Standard Bank Ironman Afrika-kampioenskap, gaan in November vir die eerste keer ook ’n Standard Bank 5150 driekamp-kampioenskap aanbied.
“Met Port Elizabeth wat Afrika se grootste driekamp aanbied, is dit die ideale plek om gasheerstad vir die 5150 te wees,” sê Keith Bowler, besturende direkteur van Ironman SA.
Port Elizabeth is die derde stad, naas Bela Bela en Germiston, wat as gasheerstad aangewys is.
Die 5150-titel verwys na die totale afstand wat die uitdaging van ’n atleet verg, naamlik 1,5 km swem, 40 km fietsry en 10 km draf.
Volgens Michael Flanagan, Ironman-woordvoerder, is die 5150 die perfekte toegangsdeur vir enige onervare atleet om later aan die halwe-Ysterman en uiteindelik aan die volwaardige Ysterman van meer as 220 km deel te neem.
Saam met die 5150 word ’n korter, “sprint-driekamp-kampioenskap” aangebied. Dit is soortgelyk aan die koöperatiewe Ysterman-weergawe waar deelnemers slegs ’n fraksie van die ware Ysterman-uitdaging moet voltooi. Die sprint behels ’n 450 m swemroete, 20 km fietsry en 5 km draf. Die sprint kan soos die koöperatiewe Ysterman-weergawe, deur individue of in spanverband aangepak word.
Flanagan kon nie Maandag bevestig of die 5150 ’n jaarlikse instelling in Port Elizabeth sal word nie. “Vir eers is dit net die een 5150 wat in Port Elizabeth gehou sal word. Die besluit om dit vir ’n paar jaar hier aan te bied, sal eers ná afloop van die 5150 geneem word.”
Inskrywings vir die 5150 open Maandag om 14:00 en kan by www.ironman.com/5150nelsonmandelabay gedoen word. Inskrywings is beperk.