
DIE beeldskone Langkloof se son groet my met sjarme en ’n karnaval van kleure soos die laaste paar kilometers onder die wiele verbyrol.
Net voor ek die Oos-Kaap agterlaat, stop ek by die padstal vol outydse sjarme aan die linkerkant van die pad. Gereed vir ’n heerlike koppie boeretroos saam met eienaars Andrew en Sarah Coetzee.
Die Kliphotel Country Store, op die bekende Roete 62 in Misgund, is ’n ouwêreldse sprokie met die opwinding van fantasie, hartlikheid en heerlike kos.
Dié gerieflik toeganklike winkel is in alle opsigte ’n besoek werd. Hier kry jy sommer met die intrapslag ’n ouwêreldse plaasgevoel.
Sjef Andrew en sy wynfundi-vrou Sarah is sedert die begin van Augustus aan die stuur van sake by die Kliphotel. Die twee oud-Stellenboschers het ’n dogter van 22 maande.
Die twee is dit eens dat hulle gereed is vir die nuwe uitdaging, en die rustiger leefstyl wat die Langkloof bied. Hulle het dié juweel van die voormalige eienaar, Anton Gerber, gekoop.
Die geskenkwinkel spog met handgemaakte gebruiksgoed en dekor om jou tuiste te verfraai. Daar is die oulike geskenke van Pretti Cool Things deur Helena Gerber. Die rakke is volgepak met tuisgemaakte konfyte, blatjang en ingelegde vrugte – alles sonder preserveermiddels of kleurmiddels.
Hier kry jy Italiaanse koffie en smul aan hul watertand boere-ontbyt, ’n ligte middagete of varsgebakte spesialiteitsbrode, skons en be-skuit.
Die kos is puik en duidelik gewild. Die spyskaart laat jou mond water en die pryse is mededingend.
Eetgoed vir spesiale geleenthede is op bestelling beskikbaar.
Die Kliphotel is ideaal vir ’n romantiese aand weg of vir die moeë reisiger. Want, in dié klipmuur “hotel” met kaggelvure in die winter, is daar gesellige leeshoekies en ruim kamers waarin jy jouself kan tuismaak.
Troues en gesellighede word hier gehou. Die restuarantgedeelte kan vir meer intieme gesellighede ingespan word.
Geen versoek is vir die egpaar te groot of te klein nie.
Die Coetzees het groot planne vir die Kliphotel: ’n mengelmoes van geskenke, nuwe disse en vertonings deur kunstenaars.
Agtergrond
Die Kliphotel Country Store, voorheen be-kend as die Redclyffe, het sy ontstaan aan ’n meevaller te danke.
’n Meneer Smith het die Redclyffe in 1931 gebou met geld wat hy in die Rhodesian Sweepstakes gewen het. Die hotel, toe nog op die hoofpad tussen Port Elizabeth en Kaapstad, het 22 klein kamers elk met ’n wasbak en kaste gehad. Daar was gemeenskaplike toilette en badkamers.
’n Paar jaar later is die Tuinroete opgra-deer, en die nuwe roete tussen Port Elizabeth en Kaapstad geraak. Die einde van ’n era het aangebreek.
Na baie jare van agteruitgang, het Anton en Helena Gerber die hotel in 2009 gekoop en na sy eertydse glorie herstel - met ’n paar mo-derne veranderings.
Nou is die Kliphotel in die knap hande van die Coetzees.