
DIE Demokratiese Alliansie dra alle inwo-ners van Kouga op die hart, ongeag vir watter party hulle gestem het.
Só het die nuwe uitvoerende burgemeester, Elza van Lingen, verseker toe sy Vrydag ’n stampvol Kruisfontein-gemeenskapsaal in Humansdorp tydens die inhuldiging van die nuwe stadsraad, toegespreek het.
Die DA het 17 van die 29 raadsetels en die voormalige regerende party, die ANC, het die oorblywende 12.
In haar intreerede het Van Lingen Kouga se kiesers bedank vir hul dapperheid om vir ’n nuwe regering te stem. Sy het inwoners verseker dat die DA alle mense se belange op die hart dra, ongeag vir wie hulle hul kruisie getrek het.
“Wat ek julle kan waarborg, is dat daar verandering sal wees, maar ons kan dit nie alleen doen nie,” het sy gesê.
Inwoners kan gehalte-dienslewering en “goeie, skoon, doeltreffende bestuur” verwag.
“Ons sal ’n veilige, skoon, inklusiewe en goed bestuurde Kouga bou, met geleenthede.”
Sy het vrese besweer dat behuisingsprojekte wat in die gebied goedgekeur is, tot stilstand sal kom en bygevoeg dat die nuwe raad beslis munisipale programme sal monitor, asook dié van ander staatsdepartemente in die gebied.
Van Lingen het gesê sy is trots op die span wat hulle na die raad bring. “Dit is ’n spesiale kombinasie van jeug, ervaring en diversiteit.”
Die nuwe speaker is Horatio Hendricks. Die burgemeesterskomitee bestaan uit Desmond Petersen (infrastruktuur, beplanning en ont-wikkeling), Danny Benson (maatskaplike dienste), Frances Baxter (toerisme en skeppende nywerhede), Bryan Dhludhlu (plaaslike ekonomiese ontwikkeling), Brenton Williams (finansies, administrasie, monite-ring en evaluering) en Nico Botha (spesiale programme).